Versoek vir nominasies
Jan H Maraisprys 2024

Nominasies word aangevra vir die grootste prys in Afrikaans

Versoek vir nominasie vir die Jan H Maraisprys 2024

Die Jan H Maraisprys verleen erkenning aan ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur werk en publikasies op hoë vlak en gehalte in Afrikaans. Dit kan aan ’n instansie of individu toegeken word. Die Jan H Maraisprys, vanjaar 10 jaar oud, is die grootste prys vir prestasie in Afrikaans met prysgeld van R750 000.

Jan Henoch Marais (1860-1915) ondersteun as liefhebber van Afrikaans in lewe en in sy testamentêre nalatenskap die uitbou van Afrikaans as akademiese en literêre taal. As gevolg van sy finansiële ondersteuning onstaan
Die Burger, die Universiteit Stellenbosch en die Het Jan Marais Nationale Fonds. Uit erkentlikheid vir sy erns met Afrikaans se hoër funksies en die ontstaan van die drie entiteite, borg die Universiteit Stellenbosch, Media24 en Het Jan Marais Nationale Fonds die Jan H Maraisprys.

Keuring vind plaas onder kuratorskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met dr Johan van Zyl as voorsitter van die keurkomitee. Die prys word op 11 September in Stellenbosch toegeken waartydens die pryswenner ook ’n beeld van Coert Steynberg ontvang.

Vorige pryswenners sluit in: Proff Herman Giliomee, Jaap Steyn, Jan van der Watt, Marinus Wiechers, Christo van Rensburg, Fransjohan Pretorius, Jean Sonnekus, Ina Wolfaardt-Gräbe, Hennie van Coller, Rufus Gouws en Louise Viljoen.

Om ’n soortgelyke waardige 2024-wenner te kies, benodig die Akademie benoemings. Die toekenning van die prys is afhanklik van ingeligte persone uit die Afrikaanse taalgemeenskap, onder andere lede van die Akademie, om moontlike wenners voor te stel.


Ons doen ’n vriendelike en dringende beroep op u om ’n waardige wenner te nomineer.
Voltooi asseblief die aanlyn inskrywingsvorm(s)

Kontakadres vir nominasies: akademie@akademie.co.za
Sluitingsdatum: Maandag 24 Junie 2024
Navrae: Dr Linda Brink by linda@akademie.co.za

SKENKINGS