Lees meer oor die geskiedenis van en besoeke aan die Engelenburghuismuseum.
Engelenburghuis was die tuiste van die eertydse eienaar en hoofredakteur van De Volkstem, dr Frans Vredenrijk Engelenburg (1863-1938). Voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het Engelenburg in 1898 twee erwe teen die hange van Meintjieskop, Arcadia aan die buitewyke van die destydse Pretoria gekoop, en in 1900, net voor die Engelse Pretoria ingeneem het, het hy die derde erf gekoop waarop hy in 1903 'n herehuis gebou het.
Die gewelwoning van Engelenburg was 'n sprekendebewys van sy aanvoeling vir argitektoniese skoonheid en die toekomstige uitbreiding van Pretoria. Toe die huis gebou is, het dit buite die dorp gestaan en die inwoners van Pretoria het dit “Engelenburg’s Folly” (Engelenburg se gekheid) genoem. Mettertyd het dit as “Het Witte Huis” bekend geword. Heelwat later het die huis bekend geword as Engelenburghuis. Die huis is in 1922 self deur sy eienaar vergroot.
Engelenburg is in 1938 oorlede en in sy testament het hy die huis aan die destydse Unieregering bemaak en die inhoud daarvan is deur die regering uit die boedel aangekoop met die doel om die huis as 'n museum in te rig. Die SA Akademie is daarna aangestel as die kuratore van die Engelenburghuismuseum en is dit vandag nog. Van 1942 af kon besoekers die museum besoek.
Hoofkantoor van die SA Akademie
Die SA Akademie se hoofkantoor was sedert 1948 in Engelenburghuis gesetel. Die regering het Engelenburghuis in 1971 aan die SA Akademie as die nuwe eienaar oorgedra en in 1991 is die inhoud van die museum ook aan die Akademie geskenk. Ná die oordrag van Engelenburghuis aan die Akademie, het die Akademie in 1976 nuwe kantore op die grond aan die suidekant van Engelenburghuis opgerig. In 1998 is die gebou, weens finansiële druk, aan die Zambiese Ambassade verkoop en was die Akademiepersoneel genoodsaak om hul kantore weer in Engelenburghuis in te rig. ʼn Substansiële bemaking deur die eertydse hoof van Afrikaans Hoër Meisieskool, me. Elizabeth C Steijn, het die Akademie in staatgestel om in 2017 nuwe kantore vir sy personeel aan die oostekant van Engelenburghuis op te rig. Sedertdien is Engelenburghuis uitsluitlik ʼn museum.
Iets oor die museumversameling
Die kleurvolle versameling en interieur van die Engelenburghuismuseum getuig van Engelenburg se artistieke en kosmopolitiese belangstellings. Met sy sierlike gewels het die woning van buite 'n Kaaps-Hollandse aanskyn, maar binne het dit 'n vreemde, eksotiese, in wese miskien byna on-Suid-Afrikaanse atmosfeer. Die materiaal vir die binnenshuiseversiering het Engelenburg hoofsaaklik uit die buiteland ingevoer. Die duur muurbehangsels, pragtige houtpanele met Franse koperbeslag op die ingeboudekaste, ontwerpte vuurherde en muurversierings, die oorvloed kunsskatte en oudhede uit alle wêrelddele waarmee die vertrekke tot oorlopens toe gevul is, het by die ingewikkelde, veelsydige en selfs raaiselagtige persoonlikheid van Engelenburg gepas.
Die bonte en kosbare kunsversameling was 'n uiting van sy kunssinnige, kosmopolitiese geaardheid – nog 'n bewys dat hoewel hy Suid-Afrika volkome as sy vaderland aanvaar het, hy nie sy eie sterk persoonlikheid ingeboet het nie en in sy private lewe uitgeleef het. 'n Gedeelte van dié versameling bestaan uit erfstukke van sy familie in Nederland wat hy na Suid-Afrika verskeep en na die binneland laat vervoer het. Heelwat van die stukke in die versameling het hy tydens sy reise in die buiteland aangekoop, asook ʼn aantal eg-Suid-Afrikaanse stukke wat hy op veilings in die Kaap bekom het. Die versameling bestaan uit onder meer skilderye, silwer, meubels, tapisserieë, porselein- en glasware, en verskeie beelde deur bekende kunstenaars, asook ʼn versameling Afrika-kunswerke en -artefakte.
Wie was dr FV Engelenburg?
Dr Frans Vredenrijk Engelenburg was 'n regsgeleerde en het in 1889 uit Nederland geëmigreer en hom in Pretoria gaan vestig, waar hy die hoofredakteur en later eienaar van De Volksstem geword het. Op 'n stil manier en op die agtergrond het Engelenburg op verskeie vlakke 'n rol in Suid-Afrika gespeel wat reeds begin het nadat hy in Pretoria aangekom het deur as raadgewer en soms ook as sekretaris vir president Paul Kruger op te tree tydens sy reise in die Transvaalse platteland. Hy het waardevolle voorstelle gemaak oor hoe die polisiediens en die staatsartillerie in die ZAR-tydperk moes funksioneer, asook vir rampbestuur en dorpsontwikkeling in dié tydperk.
Hy was sedert sy aankoms in 1889 betrokke by skoolopleiding in die destydse Transvaal en in die vroeë 20ste eeu was hy lid van die Onderwysraad van Transvaal en die Raad van die Universiteitskollege van Transvaal (vandag die Universiteit van Pretoria). As gebore Nederlander het sy liefde vir die Afrikaanse taal geleidelik ontwikkel en ná die Anglo-Boereoorlog het hy aktief Afrikaans op verskeie fronte help bevorder en ontwikkel, onder andere die Afrikaanse taalkunde, literatuur, skryfvaardigheid en om 'n leeskultuur in die land te help vestig.
Hy was ook lid van die Raad van die Staatsbiblioteek en het self ook boeke aan dié biblioteek geskenk, in lewe en ook na sy dood. Engelenburg was 'n stigterslid in 1909 van die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (vandag Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns), vir jare 'n raadslid en vir twee termyne voorsitter van die Akademie.
Dank is aan hom verskuldig vir sy bydrae tot geskiedskrywing en die historiese bewussyn van die Afrikaner, asook sy bydrae tot die argeologie, museum- en argiefwese in Suid-Afrika. Deur sy belangstelling in die bevordering van argitektuur, die visuele en uitvoerendekunste het hy die Afrikaner se kulturele identiteit help bevorder. Sy belangstellings was wyd en sluit 'n aktiewe betrokkenheid in by die ontwikkeling van lugvaart in Suid-Afrika en aanvanklik die ondervoorsitter van die burgerlugvaartkomitee. Die SA Lugmag en ook die kommersiële lugvaart het hieruit voortgevloei. Hy was ook lid van die Royal Society of South Africa wat in 1908 tot stand gekom het.
Engelenburg was familievriend en raadgewer vir generaal Louis Botha, wat die eerste Eerste Minister van Suid-Afrika was en het saam met Botha en generaal Jan Smuts ʼn rol gespeel tydens die vredesonderhandelinge in Versailles, Frankryk, met die beëindiging van die Eerste Wêreldoorlog in 1919. Ná die oorlog het hy in 1922 ‘n reuse aandeel gehad in die ontwerp van die SA muntstelsel.
Deur sy werksaamheid het dr Frans Engelenburg 'n groot bydrae gelewer om die destydse ou Zuid-Afrikaansche Republiek, maar veral ook die Unie van Suid-Afrika tot 'n staat te help ontwikkel.
Besoektye
Slegs per afspraak
Besigtiging sonder begeleide toer: Maandae tot Donderdae 09:00 tot 15:00
Besigtiging met begeleide toer: Maandae tot Saterdae 09:00 tot 15:00