Die Akademie is al dekades lank bekend vir die beloning van prestasies in die natuurwetenskappe, geesteswetenskappe en kunste
Die SA Akademie is wel meer as eeu oud, maar is vandag ‘n dinamiese instelling wat sterk eietyds funksioneer in ‘n diverse SA met sy ryk taal- en kultuurverskeidenheid. Die bekroning van uitnemende Suid-Afrikaners wat ons met ons gesogte pryse vereer bevestig ook die uitsonderlike prestasies van top presteerders op velerlei terreine.
Die Akademie ken al dekades lank pryse toe. Nominasies vir die pryse word deur spesialiskomitees beoordeel en by die Akademieraad aanbeveel. Met die toekenning van pryse lewer die Akademie 'n belangrike bydrae om 'n sterk prestasiekultuur in Suid-Afrika te skep.
Die pryse word onder die volgende afdelings toegeken: SA Akademiepryse, ATKV-SA Akademiepryse, Jan H Maraisprys en Marius Joosteprys.
Onder die talle Akademietoekennings tel die gesogte Hertzogprys, die Akademieprys vir vertaling in Afrikaans uit enige ander taal, asook pryse vir prestasie op die terreine van die Afrikaanse letterkunde, die literatuurwetenskap en die taalwetenskap. Prestasies op ander vakgebiede word bekroon met prestigepryse soos die MT Steyn-, die NP van Wyk Louw-, die Havenga-, die Stalspryse, en so meer. Erepennings op verskeie terreine in die natuur-, die geesteswetenskappe en die kunste word ook gereeld toegeken.
Doen navraag by linda@akademie.co.za
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 2010 in samewerking met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) die prys ingestel vir ‘n jaarlikse bekroning van die ses beste gepubliseerde Afrikaanse artikels wat in 'n geakkrediteerde tydskrif verskyn het. Uitnodigings word jaarliks aan redakteurs van geakkrediteerde tydskrifte gerig om artikels te nomineer.
Die ATKV borg die prysgeld, waarvan vier pryse toegeken word vir artikels in die geesteswetenskappe en twee vir artikels in die natuurwetenskappe. Die SA Akademie hanteer die keuringsproses.
Klik op die betrokke jaar om vorige jare se wenners te besigtig.
Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ‘n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op Kimberley se diamantvelde gemaak het. Jannie Marais was ‘n groot ondersteuner van Afrikaans as ‘n akademiese en literêre taal.
Die doel van die prys is om erkenning te verleen vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Hierdie prys vir ‘n bydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die keuring geskied deur ’n wetenskaplik verteenwoordigende keurkomitee van vooraanstaande plaaslike en/of internasionale wetenskaplikes, jaarliks spesiaal saamgestel deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, kragtens kriteria soos jaarliks vasgestel en geadverteer deur die keurkomitee en belyn met die doel van die Prys.
2023 - Prof Louise Viljoen
2022 - Prof Rufus Gouws
2021 - Proff Hennie van Coller en Ina Wolfaardt-Gräbe
2020 - Prof Jean Sonnekus
2019 - Prof Fransjohan Pretorius
2018 - Proff Christo van Rensburg en Marinus Wiechers
2017 - Proff Jaap Steyn en Jan van der Watt
2016 - Prof Herman Giliomee
Die Marius Joosteprys is deur Die Dagbreek Trust ingestel en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hanteer die administrasie daarvan. Die prys word toegeken vir die beste M-verhandeling in die Departement Afrikaans van ’n student wat ’n graad by ’n bepaalde universiteit voltooi het.
Titel van verhandeling: Die gebruik van Instagram in ʼn taakgebaseerde gemengdeleerbenadering vir Afrikaanstaalverwerwingstudente.
Titel van verhandeling: ʼn Morfologies-sistematiese analise van die komposisiestrukture in “Vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing” in Mede-wete (2014) deur Antjie Krog.
Titel van verhandeling: Die rol van minderheidstaalmedia in taalbeplanningprosesse met verwysing na isiZulu, isiXhosa, Sepedi en Setswana.
Titel van verhandeling: Kodewisseling in Afrikaans-Nederlandse kinders se spraak.
Titel van verhandeling: 'n Mensboom in olifantskoene: 'n postkoloniale ekokritiese analise van Moerbeibos (1987) en Toorbos (2003) deur Dalene Matthee.
Titel van verhandeling: 'n Aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek: Die bruikbaarheid van 'n prototipe
Titel van verhandeling: Dominique Botha se Valsrivier as dubbele Bildungsroman
Titel van verhandeling: 'n Korpuslinguistiese ondersoek na pragmatiese merkers in Omgangsafrikaans
Titel van verhandeling: ʼn Korpusgebaseerde ondersoek na kohesiepatrone as moontlike stilistiese kenmerk van outeurstyl