Agtergrond

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), oorspronklik De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, is op 2 Julie 1909 gestig

Maak gebruik van 'n elektroniese fondsoorplasing indien u 'n pasgemaakte bedrag wil skenk.

BANKBESONDERHEDE
SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
ABSA Brooklyn (takkode 632005)
Tjekrek.nr: 610810004

Gebruik asb jou #SkenkingJouVan as verwysing vir die betaling.

x

Missie & Visie

Die missie en algemene doelstellings van die Akademie – soos in sy Akte van Oprigting vasgelê – is die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans. Voorts behels dit ook die lewering van diens aan die samelewing. Hierdie multidissiplinêre organisasie wat die belange van alle Suid-Afrikaners wil dien, streef na uitnemendheid, billikheid, hoë wetenskaplike, morele en demokratiese waardes.

Agtergrond

Oor die jare heen het die SAAWK bekendheid verwerf vir die gereelde toekenning van literêre pryse (waarvan die Hertzogprys die bekendste is) en ander prestigepryse, asook akademiese en geleentheidspublikasies, die werk van sy Taalkommissie rondom die standaardisering van Afrikaans, en ook die talle vakwoordeboeke en terminologielyste wat deur lede van die Akademie opgestel en gepubliseer is.

stack of books

Geskiedenis

Stigterslede van die SA Akademie by die eerste jaarvergadering van die Akademie, 1910. Agter, v.l.n.r.: Prof NJ Brummer, adv NJ de Wet, adv EG Jansen, ds JD Kestell, GS Preller, genl JBM Hertzog, dr FV Engelenburg, JFE Celliers, prof A Francken en adv FS Malan. Tweede ry, v.l.n.r.: Prof G Knothe, oud-pres MT Steyn en ds DS Botha. Voor, v.l.n.r.: Dr DF Malan, ds HD van Broekhuizen, dr NM Hoogenhout en JSM Rabie.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (oorspronklik De Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst) is op 2 Julie 1909 in Bloemfontein gestig om vir die Nederlands-Afrikaanse taalgemeenskap 'n tuiste te skep om die ontwikkeling van die Nederlandse (insluitende die Afrikaanse) taal, letterkunde, kuns, geskiedenis en oudheidkunde in Suid-Afrika te bewaar en uit te bou.  

Die klein groepie stigterslede het besef dat dit 'n unieke geleentheid was en dat hulle daarvan 'n sukses moes maak. Die Akademie het in die beginjare oor geen kapitaal en gevestigde strukture beskik nie, Afrikaans het nie amptelike status geniet nie, die Afrikaanse letterkunde was in sy kinderskoene en daar was min Afrikaanse beroepslui met slegs enkele predikante, onderwysers en joernaliste, en mediese dokters en prokureurs. Met 'n oorspronklike ledetal van 50 en 'n raad van ses was die Akademie 'n klein liggaam wie se vermoë om iets tot stand te bring, afgehang het van die invloed van sy lede.

Tans is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 'n multidissiplinêre organisasie van nagenoeg 950 lede wat oor die jare bekend geword vir –

  • die gereelde toekenning van prestigepryse (waarvan die Hertzogprys die bekendste is),
  • akademiese publikasies
  • die geakkrediteerde vaktydskrifte Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) en die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT),
  • die standaardisering van Afrikaans en die Afrikaanse woordelys en spelreëls, en
  • talle vakwoordeboeke en terminologielyste.
  • die bevordering van wetenskaplike navorsing waarvan die noodsaak daarvoor besonder sterk figureer.
  • die strewe daarna om ‘n stewige, positiewe bydrae te lewer tot die ontwikkeling van ons jong demokrasie.

Daarbenewens het die Akademie 'n beduidende rol gespeel in die bereiking van vele belangrike mylpale in eietydse Suid-Afrika:

  • die erkenning van Afrikaans as amptelike taal (1925),
  • die ontstaan van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (1929),
  • die stigting van die Afrika-Instituut (1926),
  • die stigting van die Vaktaalburo (1950),
  • die Stigting Simon van der Stel (1959),
  • die instelling van die desimale stelsel in Suid-Afrika (1961),
  • die stigting van die Buro vir Heraldiek (1963),
  • die ontstaan van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (1968)
  • die stigting van die Afrikaanse Taalraad (2008), en
  • die stigting van die Fakulteite Geneeskunde, Tandheelkunde en Ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria.

Die Akademie het van die vroegste jare gewerk aan die standaardisering van Afrikaans met die eerste Woordelys en spelreëls wat reeds in 1917 verskyn het. Die Akademie het reeds in 1959 die standpunt gestel dat 'n inheemse taal as 'n verpligte derde taal in Afrikaanse en Engelse skole onderrig moes word.

Die Akademie se eerste bewaringstaak was om die regering van die dag te oortuig om die Marie Koopmans-de Wethuis in Kaapstad te bewaar, so ook die Hugenote-begraafplaas in Franschhoek (1918); die Ou Hooggeregshofgebou in Kaapstad (1924); die aankoop en inrig as museum van Krugerhuis in Pretoria (1925); die behoud van die wes fasade van Kerkplein in Pretoria (1971) en Prellerhuis in Pelindaba (1973). Die Akademie het ook ʼn bydraende rol gespeel in die oprigting van die Voortrekkermonument in Pretoria, die Vereenigingmonument, die Taalmonument in die Paarl. 

Die Akademie was 'n pleitbesorger vir 'n onafhanklike en selfstandige Afrikaanse radiodiens en het in 1931 vertoë tot die regering gerig om beswaar te maak teen die gebrek van Afrikaans oor die radio. Van 1936 tot 1993 was die voorsitters van die Beheerraad van die destydse SAUK lede van die SA Akademie. In die beginjare was die Akademie oorheersend 'n taal-, letterkunde- en kunsakademie, maar het 1929 sy arbeidsveld uitgebrei om ook die natuurwetenskappe in te sluit. Sedert 1941 staan die Akademie bekend as die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat uit twee fakulteite bestaan, nl. Taal, Lettere en Kuns en Natuurwetenskap en Tegniek.

Akte van Oprigting

SKENKINGS