Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
2022 staan vinnig einde se kant toe, met eksamens wat klaarmaak en akademiese jare wat voltooi word. Die langverwagte Desembervakansie vir die gelukkiges lê om die draai. Maar vinnig sal die nuwe werksjaar begin ... Wat is die vooruitsigte en tendense wat ons almal se 2023 gaan vorm?
Op internasionale gebied kan vyf tendense geïdentifiseer word. Die oorlog wat Rusland teen Oekraïne voer, sal voortduur. Dit het reeds die vorm van ‘n lae intensiteit offensief aangeneem, met die Russe wat nie meer oral aan die wenkant is nie. Rusland se hulpbronne – met sanksies wat begin byt – is onder druk. Dit kan aanvaar word dat daar nie ‘n volslae wenner gaan wees nie – terwyl die res van die wêreld verdere slagoffers is. Dit kan gesien word in swakker ekonomiese groei en ‘n skaarste aan noodsaaklikhede soos mielies en graan, asook olie en gas.
Tweedens sal 2023 steeds inflasionêre druk in die meeste lande se ekonomieë bring. Jonger ekonome in die Weste ken bykans nie iets soos inflasie nie, en die maatreëls om dit te beheer ofte beperk, wissel van oorreaksies tot onderreaksies. Die internasionale ekonomie sal wat groei betref, onder druk bly. Hoe die VSA (wat die wêreld se barometer is) hoër inflasie gaan bestuur, gaan deurslaggewend vir die wêreldekonomie wees.
Een van die newe-effekte van die Russiese aggressie is dat olie en gas skaarser en duurder word. Europa staar ‘n koue en moontlike gedeeltelike donker winter in die gesig. ‘n Duitse stigting het onlangs gesê dat die Duitse regering ‘n afvaardiging na Suid-Afrika gaan stuur om te hoor hoedat beurtkrag bestuur kan word. Dit is goed om te weet dat ons darem in iets die beste in die wêreld is! Duitsland oorweeg om sy steenkoolgedrewe kragstasies tenminste tydelik te heropen, en kernkrag is skielik weer ‘n moontlikheid. 2023 sal egter geen blywende energie-oplossings bring nie.
Daar is, vierdens, kenners wat meen dat die huidige internasionale situasie globalisering ‘n knou toegedien het. Regerings begin al meer weer hulle eie nasionale agendas en ekonomieë eerste stel. Dit word veral veroorsaak deurdat lande van ander lande (veral in die ooste) afhanklik geraak het vir die verskaffing van broodnodige onderdele. Hierdie pyplyn is deur die Russiese aggressie versteur of selfs tot stilstand gedwing – en sal nie vinnig herstel nie. Die ander faktor is die openlike toenadering tussen Rusland en China na om ‘n sogenoemde nuwe “wêreldorde” daar te stel om die VSA en Europa se oorheersing sedert die einde van die Tweede Wêreld Oorlog, te beëindig. Hierin sal Indië moontlik ‘n stille vennoot wees. Of werklik gaan gebeur wat Rusland en China beplan, is debateerbaar, maar die feit is dat dit globalisering tydelik stuit en verlangsaam.
Die vyfde internasionale tendens is dat tegnologiese ontwikkeling teen ‘n verstommende pas voortduur.
Die vierde tegnologiese rewolusie word al hoe meer sigbaar, veral in ontwikkelende lande. ‘n Vinnige soektog op die internet toon opwindende nuwe tegnologie-ontwikkelings aan, onder andere kunsmatige intelligensie, datawetenskap, blokkettingtegnologie in meer as finansiële sake, virtuele realiteit, nog hoër spoed dataverwerking en intelligente toeps (apps).
Al hierdie en ander tendense sal in ‘n mindere of meerdere mate ‘n impak op Suid-Afrika (en Afrika) hê. Daarmee sal rekening gehou moet word. Daar is egter ook sterk plaaslike tendense wat volgende jaar gaan vorm.
Die eerste hiervan is die uitslag van die ANC se Desember-verkiesingskonferensie. Tans lyk dit waarskynlik dat president Cyril Ramaphosa ‘n tweede termyn as ANC en landspresident gaan kry. Die vraag is hoedat die res van die sogenaamde top ses gaan lyk. As Ramaphosa sy ondersteuners of ten minste nie vyande nie, in die ander top vyf poste kan kry, sou hy met sy noodsaaklike hervormings kon voortgaan. Indien daar een of twee van die Radikale Ekonomiese Transformasie-groep in die top vyf is, sal daar nie veel verandering van Ramaphosa se kant af kom nie. Hoe dit ook al sy, 2023 gaan die begin wees van die veldtogte vir die algemene verkiesing wat teen middel 2024 gaan plaasvind.
Die tweede tendens wat gaan voortduur, is staatsverval. Dit gaan selfs nog erger op plaaslike vlak wees, maar ook Eskom gaan steeds steier weens die gevolge van vroeëre staatskaping en huidige korrupsie en onbevoegdheid. Van die tenders vir hernubare energie (son en wind) gaan toegeken word. Dit is ook moontlik dat ‘n tender vir die kleiner modulêre kernreaktors uitgereik kan word. Meer en meer Suid-Afrikaners wat dit enigsins kan bekostig, gaan ten minste gedeeltelik vir hulle eie energie deur sonstelsels begin sorg. Maa rbeurtkrag (soos Jan Oberholzer, die bedryfshoof van Eskom, al talle keregewaarsku het) gaan in 2023 ons steeds frustreer en die ekonomie bly knou.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan volgens die meerderheid voorspellers sy kop in 2023 effens oplig, met ‘n groeikoers van 1-2%. Alhoewel dit te verwelkom is, is dit gans te laag om enigsins ‘n duik op die hoë werkloosheidskoers te maak. Rentekoerse wat tans steeds onder die 12% gemiddeld van die afgelope dekade is, gaan nie veel afkom nie en die SA Reserwebank gaan in hierdie opsig konserwatief bly. Dit is egter goed om te onthou dat Suid-Afrikaanse inflasie nie naastenby so hoog soos sommige Westerse lande s’n is nie.
Derdens en nader aan die SAAWK se kernbesigheid lê die kwessie van Afrikaans as onderrig-, vak- en navorsingstaal. In 2023 gaan die debat oor die berugte BELA-wet meer intensief word en uitkring – veral indien die regering weier om na die geregverdigde besware van onderwysliggame en ouers te luister en artikels 5 en 6 van die Wet te skrap. Hierdie artikels wil die finale besluitneming (in lyn met bestaande wetgewing) oor die plasings- en taalbeleid in openbare skole van ouerbeheerliggame wegneem en aan die hoof van onderwys in ‘n provinsie gee. Dit is die sterkste en mees siniese aanval op Afrikaanse onderwys sedert 1994, ten spyte van die grondwetlike bepalings oor die oorsigmodel van skoolonderwys tussen ouers, die provinsiale regering en die nasionale regering. Selfs indien die bepalings wel geskrap word, sal die druk vanaf ANC kant op Afrikaanse openbare skole om nie-Afrikaanssprekendes te akkommodeer, toeneem. Die feit dat die ANC-regering die probleem van gebrekkige toegang tot skoolonderwys self geskep het deur oor die afgelope twintig jaar heeltemaal te min skole te bou, gaan by die meeste mense verby. Indien die Wet soos dit tans daar uitsien, aanvaar word, sal dit etlike hofsake veroorsaak wat uiteindelik in die Konstitutionele Hof sal gaan draai. Dit sal ook die werk van die MOS Inisiatief, wat Afrikaanse onafhanklike skole koop, bou en bedryf, ‘n hupstoot gee.
Wat Afrikaans op universiteit betref, is dit slegs op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Wellingtonkampus van die Cape Peninsula University of Technology (CPUT) moontlik om ‘n volle baccalaureusgraad in Afrikaans te doen. Wellington kry baie druk van die hoofkampus om Afrikaans vir onderrig in opvoedkunde te laat vaar. Dit sal gesien moet word of die nuwe visekanselier van die NWU, dr Bismark Tyobeka, sy belofte tydens sy inhuldigingsrede dat Afrikaans nie vernietig moet word nie, gestand sal doen. Die eerste tekens lyk belowend, maar die rassetransformasie op die kampus mag die pendulum na Engels toe swaai. Die Universiteit Stellenbosch gaan waarskynlik die onlangse Kampepeverslag se bevindings oor die “euwel van Afrikaans” gebruik om die taal sy doodskoot as onderrigtaal te gee – en dit kan selfs Afrikaans in informele gesprekke en e-posse op kampus verbied. Gelukkig is daar reeds twee onafhanklike Afrikaanse universiteite wat groei. Akademia hoop om sy totale getal studente van 2 500 na 3 500 op te skuif, deur die 500 residensiële eerstejaars van 2022 in 2023 te verdubbel. Intussen gaan beplanning vir die nuwe kampus in Pretoria-Oos, wat meer as 5 000 residensiële studente sal huisves, voort. Aros is ‘n hoër onderwysinstelling in Pretoria wat onderwysers op christelike grondslag oplei. Hulle mik na 1 500 studente in die volgende paar jaar. Hierdie twee instellings (saam met ‘n moontlike Akademiakampus in die Wes-Kaap) sal aan Afrikaanse leerders ‘n tuiste bied vir kwaliteit hoër onderwys.
In die vyfde plek lyk dit asof die kuns- en kultuuraktiwiteite ná die Covid-19-epidemie in 2023 uiteindelik gaan normaliseer. Die groot feeste (KKNK, Woordfees, Suidooster, Aardklop en Inniebos) gaan in 2023 weer volle programme aanbied en kan groot skares feesgangers lok. Hierdie en ander plaaslike feeste is broodnodige groeigeleenthede vir Afrikaans as kultuur-, drama- en letterkundige taal. Afrikaanse musiek gedy steeds – alhoewel die kwailiteit daarvan soms verdag is. Wat die media betref, sal die Afrikaanse mediawese steeds in 2023 sterk staan. Netwerk24, Maroela Media, die webwerf afr.com en ‘n magdom gemeenskapsradiostasies gee gehalte inligting, debatsvoering en vermaak in Afrikaans. Dieselfde bly waar van kykNET se verskillende kanale. Ten spyte van ‘n kroniese tekort aan fondse, word steeds ontsaglik baie boeke, van ligte vermaak tot ernstiger bundels tot vakliteratuur, steeds in Afrikaans gepubliseer.
Saamgevat: daar is beide internasionaal en plaaslik tendense wat sal verseker dat 2023 nie vervelig sal wees nie. Om emosioneel en fisies in Suid-Afrika te oorleef, sal die beginsel van “ons sal self” deur al hoe meer Afrikaanssprekendes toegepas moet word. Om “staatsbestand” te wees gaan in 2023 al hoe belangriker word. Om die ou Vrystaatse president Jan Brand se uitspraak te parafraseer: “as ons almal saamstaan en ons deel doen, sal alles regkom”!
Dr Theuns Eloff is voorsitter van drie Afrikaanse trusts en die MOS-Inisiatief