Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Ek gee tans vir die eerstejaars toegepaste sosiolinguistiek en een van die aspekte wat in die kursus behandel word, is taalhoudings teenoor die niestandaardvariëteite van Afrikaans. Ek is die enigste persoon in die klas wat Standaardafrikaans praat. Die studente is grootliks tweede- en derdetaalsprekers wat Afrikaans as hoofvak neem met die oog daarop om Afrikaans as eerste addisionele taal (EAT) op hoërskool te kan onderrig. Die enkele moedertaalsprekers is variëteitsprekers. Die vlak van taalvaardigheid wissel. Die wat vlot praat, skryf nie noodwendig goed nie. Diegene wat hulle goed op papier kan uitdruk, vaar nie so goed in mondelinge assesserings nie. Die werklike ywerige lesers is maar dun gesaai. Die klas het wel een ding in gemeen: hulle is skaam vir hulle Afrikaans.
Die redes wissel: “Ek praat nie so mooi nie” (aksent), “Ek ken nie die woorde in Afrikaans nie” (woordeskat), “Ek skryf verkeerd” (woordvolgorde), “Engels en Afrikaans loop saam in my kop” (taalverwarring) en dan die een wat my moed verder in my reeds geswolle enkels laat sak: “Ek praat nie soos Prof. nie.”
Ek steek ’n lang toespraak af oor hoekom hulle nie soos ek praat nie: my ouderdom, die feit dat ek deurgaans Afrikaansmoedertaalonderrig ontvang het, dat dit my werk is om aandag te gee aan my taalgebruik, dat ek ook nie vier-en-twintig uur van die dag klink soos wat ek klink as ek klasgee nie. “Kortom,” sê ek “dit is hoogs onwaarskynlik dat daar enige 18-jarige is wat gaan klink soos hierdie wit Afrikaanssprekende tante en met die beste wil in die wêreld, kan ek ook nie soos julle klink nie.”
Ek verloor so effens belangstelling in wat eintlik in die voorgeskrewe hoofstuk staan en fokus net op die verskillende variëteite van Afrikaans in sy breedste definisie. Stadig maar seker begin hulle hulleself plaas: Kaaps, Namakwalands en grootliks sprekers op verskillende vlakke van die aanleerdersvariëteit, Swartafrikaans. Ons tref vergelykings met die verskillende variëteite van Engels en dat ons ook almal (toevallig is dit waar) Engels as tweede- of derdetaal met ’n wisselende graad van vlotheid gebruik. Die studente wat onderskeidelik Tsonga, Venda, Swati, Xhoza of een van die Sothotale praat, sê dat dit presies net so met Zoeloe in Johannesburg werk. Die Zoeloesprekende studente vertel van die krisis as hulle familie in KwaZulu-Natal moet gaan besoek wat diep Zoeloe praat en wat hulle neuse optrek vir die (in hulle oë) sleng wat in Johannesburg gepraat word.
Die ys isgebreek en hoe langer ons in die verskillende variëteite delf, hoe meer word dit duidelik dat ons almal iewers inpas. Klasdeelname verbeter. Die student agter in die hoek wat nooit ’n woord sê nie, steek haar hand op. “Kan ek maar Engels praat?” “Nee,”sê haar buurvrou, “probeer, ek sal jou help.”
Die doel van hierdie vertelling is nie om aan te toon dat ek daarin kon slaag om klasdeelname onder eerstejaars in die Afrikaansklas te verbeter nie. Dit gaan daaroor dat tweede- en derdetaalsprekers die ekonomiese waarde van Afrikaans insien. In hierdie geval, spesifiek die feit dat Afrikaans (as tweede taal) beroepsmoontlikhede inhou vir onderwysstudente. Hulle het almal Afrikaans as EAT in matriek geneem. Hulle studeer B.Ed met Afrikaans as hoofvak. Hulle het grootliks vrede met al die debatte rondom Afrikaans. Vir hulle gaan dit daarom dat daar ’n tekort aan Afrikaans EAT-onderwysers is en deur Afrikaans as hoofvak te neem, verbeter hulle hulle kanse op indiensneming.
Maar hulle skaam hulle vir hulle Afrikaans as hulle met my moet praat. Mý Afrikaans intimideer hulle. Ek verstaan dit. Ek kan goed onthou hoe ek in Engels 1 gesit het en mateloos beïndruk was deur ’n klasmaat wat die woord ‘hierarchy’ gebruik het. My Engels verlaat my steeds as ek met sekere moedertaalsprekers van Engels moet praat. Maar, oor die algemeen pla dit my nie vreeslik dat my Engels nie in alle opsigte perfek is nie, want die meeste mense met wie ek Engels praat is ook maar net tweede- en derdetaalsprekers wat hulle bes probeer.
En dit is my punt: Afrikaans het meer tweede- en derdetaalsprekers as moedertaalsprekers. Hulle mag hulle nie skaam omdat hulle nie soos ek klink nie. Daar is meer sprekers van ander variëteite as van Standaardafrikaans – hulle moenie verleë staan omdat hulle Afrikaans van myne verskil nie.
Maar goed, ’n verstandige man het my eens daarop gewys dat ’n mens nooit jou gehoor moet onderskat nie. En my gehoor is studente. Ons kyk na video’s oor bendetaal, ek verduidelik wat antitaal is, hoe sleurtaal in die omgangstaal opgeneem word en verwys na die nou alombekende “Awêh, ma se kind.” Ek vra die studente hoe hulle sal voel as ek hulle só sou groet. “Nei,” kom die antwoord.“soos Prof gesê het. Prof. is mos nou hierie ou wit Afrikaanse professor-antie en dai, nope, dai ganie wek nie.”
“Yebo”
“Yes”
“Is so”
“Aikona” en
“No ways”
beaam die klas.