Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Wêreldteaterdag, 27 Maart 2024 : Die stand van en tendense in Afrikaanse teater

26/3/24

Emeritus professor Nico Luwes was die ontvanger van die SA Akademie se Erepenning vir Afrikaanse Teater in 2020 en is Voorsitter van die Kommissie vir Uitvoerende Kunste. Hy behaal al sy grade in Drama en Teaterkuns aan die Vrystaat Universiteit (BA in 1976, Hons in 1978 en MA in 1987). In 2012 word sy PhD-tesis,  Pieter Fourie as Afrikaanse dramaturg en kunsbestuurder: 1965-2010, met die D.F. Malanprys vir die beste nagraadse tesis in Afrikaans aan die UV beloon. Hy voltooi tans sy 2de PhD in Kreatiewe Skryfkuns aan die UV.

In 1977 en 1978 is hy voltyds akteur by SUKOVS en doseer daarna ‘n jaar drama aan die Kroonstad Tegniese Kollege. In 1980 is hy aangestel as junior lektor aan die Dramadepartement van die Vrystaat, in 1982 as lektor, in 1987 word hy senior lektor en in 1980 bevorder tot hoof van die Dramadepartement en Programdirekteur. In 2002 word hy bevorder tot assosiaat-professor en in 2012 tot vol professor. Na sy aftrede in 2019 is hy navorsingsgenoot van die Dramadepartement aan die UV tot einde 2023.

As nagraadse studieleier en promotor lei hy kandidate vir 34 MA-verhandelings en lewer ook 10 PhD-tesisse suksesvol af.  Hy dien as eksterne eksaminator vir 32 MA en 6 PhD kandidate van ander Universiteite in SA en Namibië. Hy dien ook as keurder vir verskeie artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte.

As professionele teaterkunstenaar skryf hy 40 nuwe Afrikaanse dramas, komedies klugte, ‘n religieuse drama, wat ook vir die radio verwerk en uitgesaai is, een musikale blyspel en verskeie vertalings en verwerkings van klassieke internasionale teatertekste van onder andere Moliere en Chekhov. Vele van die stukke, waarvan hy meestal die regie waarneem, word bekroon. As professionele regisseur van by die honderd produksies by o.a. Streeksrade en Nasionale Kunstefeeste, rig hy ook Romeo en Juliet en sy eie klug, Die buite-egtelike ouma, in Russies af in die Chekhov teater in Pavlodar, Kazakstan. Sy drie romans is sedert 2019 gepubliseer. Sy laaste satiriese klug, Die bruikbare idiot, is pas voltooi.

Op 27 Maart vind die viering van die Wêreldteaterdag plaas. Die vraag ontstaan wat die stand van en tendense in Afrikaanse teater vandag is. Dit is welbekend dat die Covid-pandemie sedert 2020 tot 2022 openbare byeenkomste vir opvoerings, teaterkunstenaars en veral kunstefeeste ’n groot knou toegedien het. Tydens 2023 moes Suid-Afrikaanse teater en kunstefeeste op wankelende bene nuwe lewe ook in Afrikaanse teater probeer blaas. Bywoningstatistieke by Afrikaanse kunstefeeste toon dat die uitdaging om gehore weer na feeste en opvoerings te lok ’n moeilike, uiters onvoorspelbare en tydsame proses was.

Eers in 2023 het dit geblyk dat gehore stadig na teaters begin terugkeer. Die finansiële en emosionele impak op Afrikaanse kunstefeeste, dramaturge en teatermakers sou ook nuwe artistieke uitdagings aan feesbesture en teatermakers stel. Watter genres en tipe produksies sou gehore wou sien? Veral watter tipe produksies sou finansieel bekostigbaar wees om risiko’s te vermy vir beide die feeste en die teatermakers self?  Hoeveel karakters, tegnici en watter produksie-, reis- en verblyfkostes is ter sprake  vir ’n spesifieke teks deur ’n dramaturg? Feeste, produksiehuise, regisseurs en veral dramaturge moes hierdie sake ernstig in oënskou neem by besluite oor wat is haalbaar en wat nie.  

’n Oorsig oor veral die hoofstroomaanbiedinge van spesifiek aanbiedings in teaters, wat ‘stand-up’-komedie, kabaret en ligte musiek uitsluit, by Afrikaanse Kunstefeeste soos KKNK, Vrystaatkunstefees, Woordfees, Aardklop, Innibos en Suidoosterfees oor die laaste twee jare, toon interessante tendense oor die genres, aard van temas en aanbiedingstyle, en veral wat die omvang van produksies wat die lengte van stukke, aantal spelers betrokke en dies meer betref.


Die eerste saak wat opval is dat die meeste nuwe teatertekste en opvoerings in Afrikaans een-, twee- of driepersoonsopvoerings is met slegs noodsaaklike rekwisiete as inkleding op feitlik leë verhoë. Temas fokus hoofsaaklik op eietydse sosiale temas wat sentreer oor gesins-, huwelik- en verhoudingsprobleme, finansiële oorlewings en veral die identiteitsproblematiek van die hoofkarakters. Die sake word gebalanseerd as ernstige en komiese opvoerings aangebied, maar komiese werke, soos die eenpersoonaanbiedings van Magda Louw deur Desiré Gardner en Rudi van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor, spog met groot bywoningsyfers.


Tweedens val dit op dat vollengte nuwe Afrikaanse ernstige dramas, komedies en klugte met groter rolverdelings in ’n mindere mate as hooffeesproduksies by kunstefeeste aangebied word. Algemene preproduksiekostes en verdere finansiële uitgawes aan akteursfooie, reis- en verblyfkoste speel opsigtelik hierin ’n rol. Of lê die probleem op ’n ander vlak?    

Wat die ernstige teater betref word veral vollengte vertalings en verwerkings van internasionale dramaturge met groot sukses en aanhang by groot kunstefeeste se hoofproduksies opgevoer. Sprekende voorbeelde is die veelbekroonde, Die fel omstrede kroon, Edward 11 & Gaviston,  Tom Lanoye se verwerking van Christopher Marlowe se  Edward 11 (1594) met regie deur Marthinus Basson met ’n groot rolverdeling van ses spelers. Ook Willem Anker se Die vegetariër, ‘n vertaling van Han Kang se novelle, "The Vegetarian" met Jaco Bouwer as regisseur en met ’n rolverdeling van vier was hoog aangeskrewe en ’n loketsukses. Nati steun die produksies finansieel en dra ook by tot die herlewing van ouer opspraakwekkende en bekroonde Afrikaanse dramas.


In 2022 herleef Pieter Fourie se vollengte Afrikaanse drama,  Ek, Anna van Wyk, wat reeds in 1984 gedebuteer het by ATKV-Kampustoneel en daarna vele professionele produksies by streeksrade beleef het, by die KKNK onder regie van Martinus Basson met ’n rolverdeling van ses spelers uit die kroon van Afrikaanse teater. Nati borg ook die groot produksie.

Veral Reza de Wet se oorspronklik Afrikaanse drama, Mirakel, uit die trilogie Trits, die Hertzogpryswenner met Mis, Mirakel, en Drif uit 1993, was ’n welkome toevoeging tot die herlewing van ’n klassieke Afrikaanse drama by vele Afrikaanse kunstefeeste in 2023. Marthinus Basson was regisseur en ses van ons land se mees gesogte akteurs het die rolle vertolk. Die tematiese gegewe oor die benarde posisie en oorlewingstryd van die Afrikaanse teaterkunstenaars in die dertigerjare waarin die drama afspeel, teen 1993 toe De Wet die drama geskryf het en opvoering in 2023 is steeds relevant.  Die borg vir die groot produksie was Nati en Het Jan Marais Nationale Fonds was die prysborg as wenner by die KKNK.

Kyk mens egter na die hoofproduksies vir teater in die genoemde kunstefeesprogramme van 2022 en 2023 val dit op dat, wat die ernstige en komiese Afrikaanse teater betref, nie juis nuwe vollengte Afrikaanse tekste met ’n groot rolverdeling aangebied word nie? Benewens die moontlike finansiële redes kom daar ’n vraag op. Al die genoemde vollengte dramas hierbo genoem, vertalings of verwerkings en die oorpronklike Afrikaanse dramas wat as opvoerings herleef het, se temas en intriges tref op universele vlak en oor tyd heen. Die stukke bevraagteken sisteme, dogmas en denke op ’n meer veelvuldige vlak. Die stukke lewer kommentaar en roep op verandering en herstel. Nie net op die onmiddellike en kleiner sosiale vlak van individue of ’n geïsoleerde groep nie, maar is werklik spieël en lewer kommentaar en insig in menswees binne ’n sosiale en politieke ruimte in al sy vorme binne ’n spesifieke tyd en omgewing wat van universele waarde vir alle volke oor tyd heen geldig is.

LEES VERDER

Bronne