Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
“Morals by Agreement” is die standpunt wat Gauthier stel rondom die konsep van die sosiale kontrak. Hierdie standpunt bou voort op die sosiale kontrakteorie wat daarop geskoei is dat enige persoon se moraliteit en of politiese verantwoordelikhede afhanklik is van die kontrak tussen ’n individu (of inhierdie geval ’n groep) en die gemeenskap waarin hulle funksioneer, aldus die Internet Encyclopedia of Philosophy (https://iep.utm.edu/soc-cont/).
Dit is egter belangrik om te noem dat die individu (of groep) net tot hierdie kontrak verbind kan word, as daar ’n nodige en billike verspreiding van sosiale en ekonomiese goedere is (John Rawls – A Theory of Justice).
Gesien in hierdie lig is ’n “nuwe” sosiale kontrak met onderwysers slegs moontlik as hierdie groep individue voorsien word van dít wat nodig is om hulle uitvoering van die kontrak moontlik te maak. Een van die vereistes vir kwaliteitonderwys, is die beskikbaarstel van genoegsame onderwysers om die beste moontlike onderrig te kan lewer. In ’n voordrag op 18 September het dr Dennis Sinyolo, die streeksdirekteur van Education International (‘ninternasionale onderwysersorganisasie) aangedui dat daar voor 2030 ’n behoefte aan 44 miljoen nuwe onderwysers sal ontstaan. Die implikasie, volgens hom, is dat daar jaarliks 15 miljoen nuwe onderwysers in Afrika gewerf behoort te word. Die implikasie vir Suid-Afrika is dat daar oor die volgende dekade ’n beduidende verhoging van die uitset byonderwyseropleiding moet wees.
Die sosiale kontrak is dus nie ’n formele kontrak tussen die staat (werkgewer) en onderwysers (werknemer - as individu of as groep) nie. Die sosiale kontrak is dus ’n versweë verstandhouding tussen werkgewer en werknemer dat daarw in ruil vir bepaaldevoordele sekere dienste gelewer sal word.
Suid-Afrikaanse navorsing het getoon dat die gemiddelde ouderdom van onderwysers tans 43 jaar is. Die implikasie hiervan is dat Suid-Afrika bo en behalwe die Sub-Sahara streek behoeftes, in effek ’n groter behoefte aan opgeleide onderwysers het, omdat die bestaande onderwyskorps nie aangevul word soos wat persone uit die stelsel uit beweeg nie.
Wat is die impak daarvan as daar nie genoeg onderwysers is nie? Die voorbeeld van die vermindering van die posvoorsieningsmandjie in die Wes-Kaap is hier van toepassing. Die Minister van Onderwys in die provinsie het aangekondig dat meer as 2400 bestaande poste nie in 2025 gevul sal word nie. As daar van die beginsel uitgegaan word dat elkeen van hierdie onderwysers ’n klas van 30 leerders onderrig, beteken dit dat 72 000 leerders geraak word. Wat doen ’n hoof met die verlies van ’n pos? As dit in ’n vak is wat skaars is, beteken dit dat die rooster heringedeel moet word en onderwysers wat moontlik nie ervare is nie, nou hierdie vak moet aanbied. As daar geen geskikte onderwyser is nie, is die implikasie dat kinders nie in dié vak onderrig sal ontvang nie. Waar daar nie ’n onderwyser is nie, word kinders in ander klasse ingedeel wat die grootte van die bestaande klas verhoog.
Navorsing het getoon dat in die Grondslagfase, die onderwyser slegs aan ’n maksimum van 25 leerders kwaliteit onderrig kan verskaf. Dit beteken dat met meer as 25 leerders in die klas kan die onderwyser nie na elke kind se leespogings luister nie en die opvoeder nie ondersteuning kan bied as die leerder sukkel nie, nie ekstra lesse kan gee vir leerders met leerhindernisse nie en ook nie elke leerder se werk kan nagaan om seker te maak dat almal dieselfde uitkoms bereik nie.
’n Onderwyser kan slegs die sosiale kontrak vir kwaliteitonderrig nakom ashy met ’n hanteerbare klasgrootte kan omgaan. Daar is tans ’n verhoogde behoefte dat Suid-Afrika verbeterde internasionale uitkomste op veral die gebied van geletterdheid en gesyferdheid moet toon, maar dit kan net gebeur as daar genoeg onderwysers is om die basiese vaardighede goed vas te lê.
Een van die uitdagings in die voorsiening van genoeg onderwysers, is dat daar nie genoeg kandidate gewerf kan word om as onderwysers opgelei te word nie. Die onderwys was nog altyd ‘n gerespekteerde beroep, waarom sal daar dan ’nskaarste aan onderwysers ontstaan?
Education International dui aan dat onderwysersalarisse steeds van die laagste in die professionele arbeidsklas is. Dié behoefte om ‘n billike lewenstandaard te kan handhaaf het tot gevolg dat goed opgeleide en bekwame onderwysers deur die privaatsektor gewerf word. Veral onderwysers wat tegniese vakke, landbouvakke en ekonomiese vakke aanbied, word hierdeur geraak.
Die emigrasie van onderwysers en verbeterde salarisse vir onderwysgesinne is tans ’n groot uitdaging. Goedgekwalifiseerde en ervare onderwysers word deur lande soos China, Japan en die Arabiese lande gewerf met ‘n beter salarispakket. Die Verenigde State veral, staan bekend as ’n grootskaalse werwer van opgeleide onderwysers uit Afrika. Die SAOU het in ’n ontleding van ledekansellasies bevind dat 17% van persone aandui dat hulle emigreer en 'n verdere 35% dui aan dat hulle uit die onderwys bedank. (’n Groep van 308 respondente oor 9 maande is as basis gebruik).
’n Verdere rede wat deur onderwysersself berig word, is dat hulle die onderwyssektor verlaat omdat hulle werksomstandighede nie meer geskik is nie. Dit word toegeskryf aan ‘n kurrikulum wat te hoë eise stel in ’n beperkte tydsraam, die aantal assesserings wat op verbetering van leerderprestasie konsentreer eerder as hulle leervlakke en die beperkte tyd wat beskikbaar is om op onderrig te fokus.’n Deel van hierdie probleem is die groot hoeveelhede administrasie wat vereis word. Hierdie administratiewe take sluit verslae oor skriftelike werk, formele assesseringsprogram en rapportering in. Dit verreken nie die onrealistiese eise wat deur distrikte en provinsies gestel word om die prestasie van skole te probeer verbeter nie.
Wat hiertoe bydra is dat die leiding wat op provinsiale en distriksvlak gelewer moet word, nie plaasvind nie omdat poste van kenners en kundiges nie gevul word nie. ’n Onbekwame vakadviseur plaas uiteindelik meer druk op onderwysers. Die vereiste dat vorms en geskrewe werk die maatstaf vir werksverrigting word, beperk die professionaliteit en onafhanklikheid van die onderwyser in die klaskamer. Ter verduideliking, ’n goeie Grondslagfase-onderwyser weet dat ‘n groot deel van die onderrigtyd spandeer behoort te word aan die ontwikkeling van speel en ontdek in die jonger kind. Dit lei tot die praktiese vaslegging van konsepte en vaardighede, ’n voorvereiste vir die formele skryf en assessering wat later van die kind verwag word. ’n Waarnemer wat hierdie teorie nie verstaan nie, sal sulke aktiwiteite bevraagteken omdat daar dan geen “bewys” van voltooide werk is nie.
Onderwys verseker die lewer van lede van die gemeenskap wat effektief tot die ekonomie bydra. Dit kan slegs gebeur as leerders ’n uittreevlakkwalifikasie het, wat toon watter kennis en vaardighede tot die gemeenskap bygedra staan te word. Die sosiale kontrak vir onderwys berus ten dele op opgeleide en bekwame personeel wat in die VOO-fase kan verseker dat leerders hierdie uitkomste bereik. Die eise aan onderwysers om die standaarde in hierdie fase te verseker, is omvattend. Statistiek rondom tienerswangerskappe en leerders wat nie kan slaag nie, is ’n bydraende faktor tot die uitdagings in die onderwys.
Onderwysers wroeg met die verwagting van ouers en bestuurspanne dat buitemuurse programme in skole aangebied moet word. Sommige onderwysers dui aan dat hulle elke namiddag, naweek en vakansies aan sport- of kultuur spandeer. Die implikasie is dat hulle eie families en gesondheid agterweë gelaat word en dat die kwaliteit van dieo nderwyser se lewe negatief beïnvloed word.
Die aard van die omstandighede in die klaskamer word ook as faktor gelys. ’n Groeiende uitroep van onderwysers, veral op sosiale media verwys na die gebrek aan ’n morele kompas van kinders en die waarneembare gebrek aan morele leiding deur ouers en geloofsgemeenskappe. Dit dra by tot dissiplinêre probleme wat in die klaskamer ondervind word. Uit mediaberigte is dit duidelik dat die toename in die boelie van onderwysers en selfs fisiese geweld, ’n bedreiging vir hierdie sosiale kontrak word.
Tydens die Covid-19-pandemie moes onderwysers hulle gesondheidsuitdagings, sowel as komorbiditeite verklaar het. Dit was die eerste geleentheid wat die onderwysstelsel gehad het om te bepaal wat die fisiese welstand van onderwysersis. Die verskillende faktore wat hier bo gelys is, dui aan dat onderwysers onder geweldige druk verkeer, dat daar toenemend meer onderwysers is wat mediese behandeling hiervoor moet ontvang en dat die geleentheid om ’n eie lewensruimte te skep wat welstand kan verseker, nie meer bestaan nie.
Die vraag sou gevra kon word: in terme van die sosiale kontrak met onderwysers, wat sou die verantwoordelikhede van die gemeenskap wees om ’n billike en rasionele werksomgewing te skep? In ideale omstandighede sou daar ’n verwagting kon wees dat elke rolspeler in die gemeenskap hulle verantwoordelikhede moet nakom. Onlangse verslae dui dat die Departement van Basiese Onderwys se fokus tans is op die daarstel van infrastruktuur soos toilette, die mediese sorg vir leerders (nodige inenting en ontwurming) en die verskaffing van etes aan leerders. Bo en behalwe die primêre opdrag volgens die sosiale kontrak, om te verseker dat leerders kan lees, skryf en tel, het die verpligting dan ook na onderwysers geskuif om primêre versorger vir leerders te wees. Dit sluit in die verantwoordelikheid om toe te sien dat leerders gesond is en basiese higiëniese kennis het, voordat leer kan plaasvind.
In terme van billike eise vir ’n sosiale kontrak bestaan die vraag dan ook of daar nie teruggekeer moet word na die beginsel van soewereiniteit in eie kring nie? Dit beteken dat onderwysers onderrig en leer fasiliteer. Onderrig en leer kan slegs plaasvind as die kind fisies en emosioneel versorg is, as die basiese vaardighede reeds in plek is en as die kind ingestel is om te leer. Dit impliseer dat die professionaliteit van die onderwyser gerespekteer word, en dat die sosiale kontrak van die gemeenskap en die ouers, voorsiening maak vir die basiese gesondheid en lewensvaardighede van kinders.
Ten slotte kan ’n nuwe sosiale kontrak met onderwysers slegs gesluit word as hierdie kontrak gebaseer is op redelike interaksie tussen alle rolspelers in die gemeenskap; ’n interaksie waar elkeen sy rol ten volle vervul en waar daar ’n billike beskikbare stel van die hulpmiddels vir kwaliteitonderwys is, veral in die vorm van genoeg onderwysers om aan die eise van die gemeenskap te voorsien, dan eers kan daar ‘n stelsel van “Morals by Agreement” wees.