Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
“Erfenis” en “geskiedenis” is twee begrippe wat ons dikwels in samehang hoor. Dit word geassosieer met tradisie, gebruike en erfgoed – die wortels stewig in die verlede, maar die bewaring en praktyk gevestig in die hede. Dit vorm deel van ons omgang met ons identiteit en ons bande met ons verlede. Daarom besoek ons museums, beoefen ons rituele, woon ons tradisionele geleenthede by en rig ons monumente op.
Is erfenis egter dieselfde as geskiedenis, in die akademiese sin van die woord, en is erfenis iets waarmee historici hulself besig hou? Die antwoord daarop is noodwendig akademies van aard. Historici en erfenispraktisyns beskou mekaar as kollegas, maar ons beoefen afsonderlike – hoewel verweefde – vakgebiede. Ons navorsing voed mekaar se vakbeoefening en beide is aktief besig om ’n vertolking van die verlede te bied.
Erfenispraktisyns is egter ook op ’n praktiese vlak bemoeid met die bewaring van die tasbare oorblyfsels van ons verlede en met die publiek se omgang daarmee, terwyl geskiedenis nie noodwendig met die tasbare verlede te make het nie, en meer gemoeid is met navorsing óór die verlede as die bewaring daarvan.
Navorsing oor die verlede reik so wyd soos die Heer se genade – dink bv. aan die uiteenlopende navorsingsgebiede binne die veld van geskiedenis: Politieke geskiedenis, ekonomiese geskiedenis, sosiale geskiedenis, intellektuele geskiedenis, omgewingsgeskiedenis, militêre geskiedenis, kultuurgeskiedenis, arbeidsgeskiedenis, wetenskapsgeskiedenis, gendergeskiedenis– die lys kan bladsye beslaan. Elkeen van hierdie navorsingsgebiede word deur erfenis ondervang en berus op die bewaringswerk van erfenispraktisyns – soos ook op die kundigheid van argivarisse en bibliotekarisse, waarsonder historicinie hul werk kan verrig nie.
Beide velde kan krities met die verlede omgaan, en terselfdertyd is beide kwesbaarvir die romantisering van die verlede en vir politieke propaganda. Geskiedenishandboeke kan in diens van die staat staan en museums kan ’n bepaalde weergawe van die verlede verheerlik. Die Suid-Afrikaanse landskap is bestrooi met voorbeelde van beide.
Die afgelope jare sien ons ’n al groter wordende gaping tussen die kritiese, akademiese beoefening van geskiedenis by universiteite, en die openbare viering van die verlede. Historici tref dikwels onderskeid tussen “akademiese” (lees: kritiese) geskiedenis en “openbare” of “publieke” geskiedenis, waarvan erfenisbeoefening ’n groot onderdeel vorm. Dit is nie te sê dat ons erfeniskollegas onkrities met die verlede omgaan nie – erfenisstudies is tog ook ’n kritiese akademiese veld in eie reg. Historici word egter toenemend binne ons universiteite verskans, terwyl erfenispraktisyns meer uitgelewer is aan die staat se toekenning – of weerhouding – van hulpbronne.
Ons sien ook spanning tussen die kritiese beoefening van geskiedenis en die onkritiese (lees: verpolitiseerde of verromantiseerde) viering van die verlede, wat dikwels in ons openbare debatte na vore tree. ’n Goeie voorbeeld daarvan is die verwydering van koloniale standbeelde of die herbenaming van strate en geboue. Ons hoor dikwels dat die bepaalde naam of beeld deel van ons erfenis is, dit het tog gebeur, dit kan tog nie verander of verwyder word nie.
Verskuiwings en herbenamings is daarom vir ons tekenend van verskuiwings in ’n samelewing se dinamiese omgang met en vertolking van die verlede. Die naam of die standbeeld is nie ’n stuk “geskiedenis” self nie, maar ’n artefak.
’n Goeie historikus is nie ongemaklik met verskuiwings in ons vertolking van die verlede nie. ’n Goeie erfenispraktisyn ook nie – en sal saam met die historikus die publiek deur daardie verskuiwings begelei, terwyl hulle die tydskapsules uit ons verlede sal bewaar, sodat ons merkers het om ons verskuiwings aan te toon.