Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
My ma word 93. Sy gebruik bedrewe ’n iPad om haar elektristeit aan te koop, banktransaksies te doen en kerkdienste op YouTube te volg. Sy het ook geleer om met kinders en kleinkinders in die buiteland op Skype te gesels. Sy byt nog nie aan Google wat mens antwoorde op bykans als kan verskaf nie. Daar staan immers twee rakke vol goed-deurblaaide Encyclopedia Britannica op haar boekrak!
Haar eerste poging om Google te gebruik was ook nie baie geslaagd nie. Iewers het ek nagelaat om ’n stap ten opsigte van sleutelwoorde te verduidelik.
“My kind, dit werk nie!” roep sy uit die sitkamer. Daar aangekom het Moeder ewe beleefd ingetik: Dear Mr Google, Could you please tell me …? Getrou aan die sterk seksisme van haar dag, was die manlike aanspreekvorm in die kol en sy darem so ordentlik en beleefd soos haar tyd haar geleer het.
So het ek dan ook die voorreg gehad om vir verskeie van haar tydgenote in die aftreeoord te leer hoe om SMS’e te stuur, aanhangsels te e-pos en meer onlangs hoe om te Zoom en WhatsApp’ste stuur. Die onverbloemde opgewondenheid op ’n verkreukelde gesig as haar kind uit die VSA of Nieu-Seeland terug antwoord is soos die eertydse bankadvertensie gesê het “priceless”!
Met groot bevrediging vir beide leerder en leerkrag (met soms ’n baksel beskuit of konfyt as dankgeskenk), het ek die “oues van dae” die 21ste eeu tegnologies binne gehelp.
So bedink ek dus vanaand (na afloop van beurtkrag wat deesdae ’n totaal nuwe vorm van geletterheid vereis!) die konsep ‘geletterheid’.
As dosent debateer ek die tradisionele definisie met my Grondslagfase onderwyseresse-in-wording. Meeste onderskryf die tradisionele definisie dat as jy kan lees en skryf jy geletterd is. Teenvraag van my kant af om gedagtes te verfyn: Jy kan lees en skryf. Kan jy in Zoeloe (of Pools) ‘n taak indien of ‘n koerantartikel verstaan? Stilte. Definisie word daarna verfyn na:
Mens moet ten minste die taal ken om dit te kan lees en skryf. Daar is dus veel meer aan geletterd wees. En ja,hierdie tradisionele vorm van geletterdheid word van ’n uitsonderlike jong ouderdom af aangemoedig in geïndustrialiseerde en tegnologies gevorderde gemeenskappe. Geletterdheid in sulke samelewings word beskou as die sleutel tot kennis, mag en ekonomiese welvaart.
Tog is daar wêreldwyd gemeenskappe wat baie suksesvol funksioneer met slegs luister- en praatvaardighede. Hierdie persone is in staat tot geslaagde sosiale interaksie en bou sterk verhoudings. Hulle vra en bevraagteken, spreek hul ontevredenheid of vrese uit, en kan komplekse en abstrakte idees bespreek sonder om die tradisionele geletterdheidsvaardighede van lees of skryf aan te geleer het.
Hierdie gemeenskappe is gewoonlik nie onderworpe aan die eise van ’n voortdurend veranderende omgewing nie. Ons kan egter nie ontken dat sulke gemeenskappe oor ander hoogs verfynde geletterdheidsvaardighede beskik wat hulle in staat stel om met hul spesifieke omgewing om te gaan nie. Hulle vertolk wolkpatrone of dierespore terwyl hulle in die woestynsande van Namibië rondswerf. Of soos Inuïte wat met gespesialiseerde kennis in staat is om hul iglo's met die regte soort sneeu te isoleer om warm te bly.
Geletterdheid is dus meer as bloot ’n kognitiewe proses om te leer lees, skryf en bereken. Dit impliseer die graad van toegang wat jy het tot jou wêreld asook die nodige kennis om daarin op ’n toepaslike vlak te funksioneer. Dit behels die ontwikkeling van verskeie vermoëns om sin te maak van die omgewing waarin jy leef en om met lede van jou gemeenskap gepas te sosialiseer. Die tradisionele definisie van geletterheid lyk dus hiervolgens eng en beperkend.
Voor die COVID-19-pandemie, wat die ergste ontwrigting van onderwys in ’n eeu tot gevolg gehad het, het 617 miljoen leerders nie die minimum ouderdomsleesvlakke bereik nie en is alom reuse leerverliese gely. Maar hieroor is reeds genoeg geskryf en gesels. Ek wend my vandag tot ’n andersoortige agtergeblewene: die seniorburger.
Die digitalisering van byna elke aspek van die hedendaagse lewe het die manier waarop ons leef, werk en met mekaar kommunikeer, onherroeplik verander. Vir dié jonger as 40 - of soos Prensky hulle noem - die digitale boorlinge, wat met hedendaagse tegnologie grootgeword het, is navigasie deur die digitale landskap tweede natuur. Maar vir die res van ons digitale immigrante - soos Prensky ons noem - wat landlyne, seëls en slakkepos ken en aan die einde van die maand in toue staan om rekeninge met tjeks te betaal, is die internet, slimfone en toepassings revolusionêr en verwarrend, al is ons effe verwonderd hoor hul funsionaliteit.
Hierdie tegnologiese omwenteling het baie ouer persone erg onkant gevang. Besighede en diensverskaffers verwag deesdae dat hul kliënte, ongeag hul ouderdom, digitaal bedrewe moet wees. Hulle moet dokumente kan aflaai, uitdruk, onderteken en terug skandeer (nie eers meer faks nie!). Die duisende toepassings wat mens toelaat om aanlyn inkopies te doen, met jou finansiële bestuurder of begrafnisondernemer (!) in persoon te kan gesels of selfs met ’n’ bot - wat redelike sinvol terugpraat - te kommunikeer, kan die gebrek aan vertroudheid/bekendheid met hierdie tegnologieë oorweldigend wees. Hierdie vaardighede, wat tans as essensieël beskou word, word grotendeels deur jongmense informeel verwerf.
Om digitale vaardighede te bemeester is bemagtigend en skep ruim geleentheid vir die behoud vanonafhanklikheid en skakeling vir veel langer op mens se oudag. Van die oplaaivan mediese eise, die aanlyn bestel van kruideniersware, tot ’n Uber bestel na die kliniek toe eerder as om te moet staat maak op ’n buurman wat nog bestuur, bied hierdie aanlynhulpmiddels ongeëwenaarde gerief en toeganklikheid.
Hierdie wonderwêreld bly egter ontoeganklik vir baie seniors, wat nie internet of ’n betroubare Wi-Fi-verbinding het nie. Geleenthede vir verbeterde lewensgehalte en onafhanklikheid word oorheers deur die gebrek aan geld (soms) en kennis om hierdie hulpbronne aan te wend. Die digitale kloof manifesteer dus ook hier aangesien gebrekkige ondersteuning en onderrig dit nie oorbrug nie. Die samelewing neem aan dat almal, ongeag hulle ouderdom, vanselfsprekend by hierdie veranderinge sal aanpas. Ongelukkig ignoreer hierdie aanname die unieke uitdagings wat ouer volwassenes moet oorbrug, insluitende vrees vir tegnologie, bekommernisse oor privaatheid en veiligheid, en die frustrasie om nie te weet waar om leiding te kry nie.
In ’n toenemend digitale wêreld, blyk dit dus asof die gaping tussen generasies wyer word, wat baie ouer mense geïsoleerd, verward en kwesbaar laat. Terwyl die digitale omgewing talryke voordele bied, bring dit ook beduidende risiko's vir dié wat nie voldoende digitaal geletterd is nie.
Digitale geletterdheid is bemagtigend en bevrydend,maar behels meer as net die begrip van die toestel of sagteware. Dit veronderstel ook ’n kritiese geletterdheid om te kan onderskei tussen wat legitiem en outentiek is. Hoeveel ouer mense se onkunde is nie uitgebuit nie en is hulle op ingewikkelde skemas ingeteken, is hulle hulle spaargeld kwyt of is persoonlike inligting gesteel. Bedrieërs gee hul voor as tegniese ondersteuningspersoneel wat beweer dat die slagoffer se rekenaar ’n virus of ander probleme het. Hulle versoek dan afstandbeheer oor die rekenaar en hef buitensporige fooie vir onnodige herstelwerk. Uit vrees vir die verlies van hulle digitale lewenslyn, stem hulle in. Ander stel hulle voor as benarde familielede, dikwels kleinkinders, wat beweer dat hulle in die moeilikheid is en dringend geld nodig het. Die emosionele stres wat deur so ’n oproep veroorsaak word, benewel oordeelsvermoë. Ander probeer die eensaamheid besweer en so skep skurke valse profiele en bou emosionele verhoudings met hul teikens,net om geld of geskenke onder valse voorwendsels te bekom.
Die kwesbaarheidvan ouer mense in die digitale era vereis dat hulle in alle opsigte geletterd word. Ons moet gesamentlik werk om die digitale gaping te oorbrug sodat ouer burgers volledig en veilig die voordele van die digitale wêreld kan benut. Ons moet die unieke uitdagings wat hulle in die gesig staar, erken en proaktiewe stappe neem om te verseker dat almal, ongeag ouderdom, die kans kry om by die digitale era te baat, sonder vrees vir uitbuiting of verlies na die verkeerde druk van ’n ikoon.
Digitale geletterdheid verseker die insluiting, gelyke en gemaklike toegang tot gesondheidsorg,finansiële transaksies, aankope en sosiale kontak, selfs vermaak. Ouer volwassenes verdien die kans om hierdie voordele te geniet, maar hulle het gestruktureerde en geduldige leiding nodig om in die 21st eeuvolledig geletterd te word.
**-**
En nou haas ek my na mnr Du Preez in 4de Laan wat wag dat ek hom kom leer hoe om ’n’ QR-kode te gebruik. Daarna moet ek nog voorberei vir môre se praatjie in die klubsaal oor ChatGPT!