Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Ons vier op 24 Januarie Internasionale Onderwysdag – baie gepas aan die begin van ons nuwe skooljaar terwyl daar nog breë haasbek-glimlagteen blink ogies by die leerders en vars grappies in die personeelkamer is.
Onderwys behoort hoog op die agenda van elke regering te wees en ons weet dat die Afrikaanse gemeenskap soos ʼn moederhen oor onderwys waaken passievol betrokke is. Politici herinner ons ook gereeld (veral so voor verkiesings) dat onderwys ʼn societal matter is. Ons weet verder dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel ongelukkig nie die gehalte-onderrig aan elke kind voorsien soos wat ons Grondwet in die vooruitsig stel nie. Tagtig persent van ons land se skole funksioneer nie behoorlik nie, maar ʼn handjie vol skole wys wat wel moontlik is.
Ek deel ses uitstaande kenmerke van suksesvolle skole:
1. Leierskap
Iemand het eendag gesê hy is banger vir ʼn trop skape wat deur ʼn leeu gelei word as ʼn trop leeus wat deur ʼn skaap gelei word. Daar is geen suksesvolle skool sonder puik leierskap nie - en dit begin by die skoolhoof. Die skole het leiers nodig wat mense saamvat, wat mense met empatie hanteer, die potensiaal van elke kind ontwikkel en nie heeldag die oog op die trofeekas het nie. Hierdie leiers weet dat die skool eerstens oor akademiese prestasie gaan. Dit is leiers wat die beste uit die span haal deur hulle te ontwikkel en verantwoordelikheid met gesag te gee. Die beheerliggaam word gelei deur ʼn sterk voorsitter wat die gemeenskap wil dien en ʼn deeglike begrip van “governance” het en weet dat daar ʼn goeie verhouding tussen die voorsitter en die skoolhoof moet wees. Hierdie skole soek na oplossings en wag nie vir die staat of ander om kwessies te hanteer nie. Die goeie skole belê in jong leiers en die leerders speel net so ’n belangrike rol in die skool se leierskap.
2. Goeie en toegewyde opvoeders
Die McKinsy-verslag oor wêreldonderwysstelsels merk op dat die gehalte van ʼn onderwysstelsel nie beter kan presteer as die gehalte van sy opvoeders nie. Vir die leerder in die klas bestaan die hele onderwysstelsel slegs uit die opvoeder voor die klas. Suksesvolle skole stel die beste opvoeders aan - en behou hulle. Opvoeders wat lief is vir hul leerders, vakkenners is, die ekstra myl stap. Dis nou daardie opvoeders wat ná ʼn voldag in die klaskamer met ywer sport of kultuur afrig, die aand voorberei vir ʼn kreatiewe les en oor naweke en vakansies met leerders toer. Dit is ook skole wat ruimte skep sodat opvoeders verder kan ontwikkel, studeer en professionele vryheid ervaar. Die skole belê in jong opvoeders en het mentors wat seker maak dat hulle ook in goeie en toegewyde onderwysers ontwikkel.
3. Dissipline
Goeie skole fokus op waardes en nie net reëls nie, maar gooi nooit die handdoek in as dit by dissipline kom nie. Daardie skole is nie vol engeltjies nie (daar is gewone kinders en onderwysers), maar daar is ʼn kultuur van dissipline van die skoolhoof tot die skoonmaker en van die jongste tot die oudste leerder. Die skole doen moeite met programme en betrek ouers, voogde en skoolgemeenskappe om saam die waardes van die skool uit te leef. Die skole erken dat dissipline vir almal ʼn uitdaging is, maar skram nie weg om dit trompop te loop nie.
4. ʼn Voorspelbare ritme van aktiwiteite
Goeie skole is voorspelbaar – opvoeders en leerders weet reeds die vorige jaar hoe die nuwe skooljaar gaan lyk met alles van die klasrooster tot die sport- en kultuurprogram. Almal weet hoe werk die skool se stelsels en periodes en as die klok lui en leerders is in die klas word daar gewerk. Die konstante ritme van aktiwiteite skep ʼn veilige, voorspelbare omgewing waarbinne personeel en leerders kan floreer. Dit word nie meganies nie, maar bly ’n kreatiewe, dinamiese omgewing wat binne veilige grense funksioneer.
5. Goeie beheer en bestuur
Suksesvolle skole het goeie beheer- en bestuurspraktyke met gesonde en gereelde interaksie tussen die twee. Die leiers weet dat beheer en bestuur twee kante van dieselfde muntstuk is, verstaan mekaar se rolle en respekteer dit, maar werk elkeen kliphard sodat die “anderkant van die munt” suksesvol is. Opleiding, akkurate inligting en strategiese planne is altyd op die tafel. Beheerliggame skep beleid en kontrolemeganismes om verantwoordelike en verantwoordbare bestuur moontlik te maak ooreenkomstig die beginsels van die King-verslae oor goeie beheer (“good governance”) en bestuurspanne maak seker dat dit doeltreffend toegepas word en soek voortdurend geleenthede vir verbetering.
6. Betrokke ouers
Die voorloper van die SA Skolewet, Witskrif 1, lees dat elke ouer ʼn onvervreembare reg het om die aard van hulle kind se opvoeding te kies, maar dat elke ouer die primêre taak vir die opvoeding van hulle kind het. In eenvoudige terme weet ouers in suksesvolle skole dat die skool die ouer se hoofvennoot in die proses is en nie ʼn “uitgekontrakteerde” diens lewer nie. Ouers besef dat betrokkenheid nie beperk kan word tot die betaal van skoolgeld en om kinders bloot betyds by die skool af te laai nie. Suksesvolle skole weet ook hoe om ouers sinvol te betrek en betrokke te hou in die skoolprogram. Dit sluit in dissipline, kontak met die opvoeders, bywoon van skoolfunksies soos sport en kultuur, skoolvergaderings en om op skoolstrukture soos die beheerliggaam of komitees te dien. Goeie skole weet dat ouers jou beste bemarkers onder ander ouers is.
Die gebreke van die staat en lamsakkigheid van departementele amptenare word nooit ʼn verskoning vir suksesvolle skole nie - dit word eenvoudig op die agtergrond geskuif en daar word self planne gemaak.
Die uitdaging vir die meeste skole is om die kopskuif van ʼn staatskool na ʼn openbare skool te maak. Openbare skole is bates in die gemeenskap en gemeenskappe moet self verantwoordelikheid aanvaar. Skoolgemeenskappe moet die bates jaloers oppas, die personeel koester en seker maak dat elke kind weet hoe belangrik die skool en opvoeding is.
Internasionale Onderwysdag plaas vir ʼn oomblik die kollig op die toekoms – die onderwysprofessie is per slot van sake die een beroep wat alle ander beroepe moontlik maak.