Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Die mees onlangse vooruitgang in kunsmatige intelligensie (KI), spesifiek die geredelike beskikbaarheid van generatiewe KI-programme soos OpenAI se beroemde en berugte ChatGPT, het ’n onomkeerbare impak op ons leefwêreld en hoe ons oor die menslike ervaring dink.
In die onderwys, ’n kernruimte waar menslikheid gevorm en gevoed word, bring KI nie net nuwe uitdagings en geleenthede nie, maar dwing dit ons om ou kwessies in ’n nuwe lig te beskou. Byvoorbeeld: Hoe beïnvloed generatiewe KI-toepassings die ontwikkeling van kritiese denke? Het ons werklik kritiese denke aangemoedig en bevorder in ons onderwyspraktyke, of het ons onbewustelik “menslike robotjies” begin oplei? Hoe gemaklik is ons met studente wat die idees van hulle onderwysers of dosente bevraagteken en oorspronklike perspektiewe ontwikkel? Ondersteun ons huidige onderwysmodelle en benaderings werklik die ontwikkeling van menslike agentskap?
Op Wêreldonderwysdag dink UNESCO vanjaar na oor die rol en behoud van menslike agentskap in ’n wêreld van toenemende outomatisering. Die uitdaging is om die unieke waarde van leerders en studente (en per implikasie die hele mensdom) se menswees te kan koester en selfs te versterk in ’n tydperk waar masjiene met eerste oogopslag “slimmer” as ons voorkom.
Onder die vaandel van samewerking het ons die konsepte en idees van hierdie stuk nie net met mekaar nie, maar ook met die einste ChatGPT gegenereer, georganiseer en verfyn, terwyl ons deurgaans ons eie menslike agentskap gebruik het om die KI-insette kritieste evalueer en die eindresultaat te formuleer.
Wat beteken dit om mens te wees in die tyd van KI?
Selfs voor ChatGPT op die toneel verskyn het, is daar al nagedink oor die invloed van outomatisering en tegnologiese vooruitgang op die onderwys. In Robot-Proof (2017) hou Joseph Aoun, hoof van die North Eastern University in Boston, VSA, kreatiwiteit, aanpasbaarheid en lewenslange leer voor as kerneienskappe wat studente moet hê in ’n toenemend geoutomatiseerde wêreld.
Reid Hoffman, stigter van LinkedIn en voormalige lid van OpenAI se Raad, benadruk weer dat ons nie studente moet (aanhou) oplei om roetine-take te verrig wat binnekort geoutomatiseer kan word nie. Volgens hom kan KI wel ons menslikheid versterk deur hierdie take te outomatiseer en sodoende meer ruimte te laat vir kreatiwiteit en intellektuele aktiwiteite. Hy beklemtoon dat KI nie ons menslikheid moet onderdruk nie, maar eerder as ’n hulpmiddel moet dien om ons potensiaal te verhoog.
Terselfdertyd waarsku Tomas Chamorro-Premuzic (2023), sielkundige en outeur van die boek, Human, dat ons onbewustelik ons eie menslike waarde kan ondermyn. Hy wys daarop dat ons afhanklikheid van slimfone en KI-gebaseerde hulpmiddels ons kritiese denke en interaksievaardighede kan laat kwyn en menslikheid reduseer tot algoritmies-gereguleerde gedrag. Vir Chamorro-Premuzic staan vaardighede soos probleemoplossing en die vermoë om woord by die daad te voeg, sentraal tot ons mensheid en hy sonder nuuskierigheid, dus die vermoë om vrae te stel en voortdurend nuwe dinge te ontdek, as onontbeerlik uit (ons sal later hierop uitbrei).
Vir ons lê die essensie van mensheid in die genoemde kreatiwiteit en nuuskierigheid – die onafgerondheid en voortdurende in wording wees wat ons as mense uniek en kompleks maak.
Hierdie kompleksiteit van menswees kan ook, gegewe UNESCO se fokus, in verband bring met Albert Bandura (2006) se konsep van menslike agentskap (“human agency”). Hy identifiseer etlike sleutelkomponente wat sentraal staan tot die uitoefening van agentskap:
Menslike agentskap staan hier in teenstelling met KI-modelle wat onafhanklik take uitvoer deur menslike gedrag na te boots, besluite te neem en op data-insette te reageer. Daar word voorspel dat KI-kletsbotte binnekort met mense sal kommunikeer via stem en video, terwyl hulle menslike emosies kan lees en hul antwoorde dienooreenkomstig aanpas. Hoewel hierdie vermoëns geleenthede vir persoonlike leer- en interaktiewe-ervarings kan bied, hou dit waarskynlik ook die risiko in om menslike agentskap te ondermyn, veral deur emosionele manipulasie in die besluitnemingsproses.
Die risiko van oormatige afhanklikheid van KI
Wanneer ons die unieke menslike vermoëns soos nuuskierigheid, kreatiwiteit, die skep van betekenis en agentskap oorlaat aan masjiene, stel ons ons menswees in gevaar. Oormatige afhanklikheid van KI kan lei tot ’n verlies aan kritiese denke en ’n passiewe benadering tot leer en probleemoplossing. Dink byvoorbeeld aan ’n klaskamer waar KI-tegnologie oorheers – assessering word geoutomatiseer en studente fokus eerder op die voltooiing van take as op dieper leer. Alhoewel dit effektief mag voorkom, slyp dit individue wat slegs reageer op instruksies en nie meer vrae stel of innoverend dink nie.
Een van die grootste risiko's is ’n verskuiwing in ons samelewing se waardes. Die oorbeklemtoning van algoritmiese perfeksie bedreig die waarde wat aan menslike kreatiwiteit en kompleksiteit geheg word. KI-uitsette word dikwels gesien as foutloos en vinnig, wat ’n wanpersepsie skep dat menslike werk, wat soms morsig en eksperimenteel is, minder waardevol of selfs oorbodig is. Hierdie obsessie met perfeksie ontmoedig ’n mens om te leer deur jou foute en onderdruk die onvoorspelbare oomblikke van kreatiwiteit en empatie wat mense uniek maak.
Ter illustrasie van hierdie punt het ons onlangs ervaar hoe KI-teksopsporingstegnologie “netjiese” of gesofistikeerde teks as KI-gegenereer aandui, terwyl minder gepoleerde dele van dieselfde teks as eg of “mens-gegenereerd” gemerk is. Hierdie voorval beklemtoon dat ’n fokus op perfeksie en eindprodukte dalk ten koste kan wees van die meer morsige proses van leer. Ons meen dat dit juis hierdie proses is van ongepoets en onafgewerk in wording wees, waar ons die oomblikke van onvoorspelbare kreatiwiteit, empatie en kritiese denke vind wat ons van KI onderskei.
In die onderwys moet ons daarom waak teen ’n toekoms waar menslike agentskap uitverkoop word aan die skyn van tegnologiese perfeksie. Ons moet eerder die menslike kompleksiteit koester en versterk.
Herbevestigmenslike kompleksiteit: 'n Oproep tot aksie
In ’n onlangse gesprek, hier beskikbaar as ’n potgooi, lig dr Melody Neaves, ingenieurswesedosent aan die Universiteit Stellenbosch, die idees van nuuskierigheid, kreatiwiteit en agentskap, ons elemente van die kompleksiteit van menswees, as belangrike aspekte van studente se leerproses uit. Sy is veral bekommerd dat studente se pogings om hierdie wordingsproses met behulp van tegnologie vry te spring daartoe kan lei dat hulle die messiness van menswees in die proses kan verloor. Haar kernboodskap aan studente is dat hulle die protagonis en superheld in hulle eie lewe en leer moet wees. As hulle hierdie rol vertolk, kan KI óf die draak wees wat hulle moet verslaan óf ’n helper wees wat hulle bystaan, maar dit kan nie hulle unieke bydraes vervang nie. Sy deel dat sy as dosent studente die geleentheid wil gun om te verken, te leer en te word.
In ’n tyd waarin KI al hoe meer alledaagse take oorneem, stem ons saam met die denkers wat belig dat ons doelbewus moet fokus op die vaardighede wat ons uniek menslik maak. Ons het reeds kortliks genoem wat Chamorro-Premuzic as kern tot ons mensheid ag, maar wil sy drie elemente verder uiteensit omdat ons glo dit groot waarde kan inhou vir die onderwys vandag. Hy lys die volgende:
Opvoeders het ’n sleuteltaak in die bevordering van hierdie eienskappe. Ons moet beweeg van ’n model wat op die assesserings van produkte fokus na een wat ware leer, kreatiewe denke en die ontwikkeling van empatie en etiek bevorder. Dit noodsaak die deurdagte en doelbewuste inspan van KI as ’n hulpmiddel eerder as ’n plaasvervanger.
Gevolgtrekking: Die toekoms van menslike agentskap
Ons kan nie meer die invloed van KI afbaken tot spesifieke ruimtes nie –dit is reeds geïntegreer in die tegnologie wat ons daagliks gebruik. Ons taak in die onderwys is daarom om studente te bemagtig om hul menslike agentskap te ontwikkel en te beskerm te midde van die opkoms van kragtige KI-stelsels.
KI kan ons unieke menslike vermoëns versterk, maar slegs as ons dit doelbewus en met oorleg gebruik. ’n Belangrike stap in hierdie proses is om studente daaraan te herinner dat leer nie ’n netjies verpakte of kliniese proses is nie, maar soms deurmekaar en ongemaklik is. Deur die fokus op leer as ’n dinamiese, komplekse proses te plaas en kreatiwiteit en kritiese denke te koester, kan ons verseker dat die volgende generasie nie net KI-gebruikers is nie, maar aktiewe, innoverende deelnemers in ’n wêreld wat deur KI gevorm word.
Aoun, Joseph. 2017. Robot-proof: Higher education in the age of artificial intelligence. Cambridge, Massachusetts: MIT Press.
Bandura, A. 2006. “Toward a Psychology of Human Agency.” Perspectives on Psychological Science: A Journal of the Association for Psychological Science 1 (2): 164–180. doi:10.1111/j.1745-6916.2006.00011.x.
Chamorro-Premuzic, Thomas. 2023. How ChatGPT is redefining human expertise: Or how to be smart when AI is smarter than you. Forbes. 12 Januarie. Beskikbaar by: https://www.forbes.com/sites/tomaspremuzic/2023/01/12/how-chatgpt-is-redefining-human-expertise-or-how-to-be-smart-when-ai-is-smarter-than-you/?sh=5d415fa75402
Hoffman, Reid. 2023. Impromptu: Amplifying our humanity through AI. Dallepedia LLC. Beskikbaar by: https://www.impromptubook.com/