Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Internasionale vertaaldag is in 1991 deur die Federasie van Internasionale Vertalers [FIT] geskep en in 2017 deur die Verenigde Nasies geproklameer. Daaroor kan persone wat belangstel, breedvoerig ingelig word by, onder andere, https://www.un.org/en/observances/international-translation-day. En let sommer gerus op hoeveel verwarring op daardie skakel geskep word deur te suggereer dat “translation” as ekwivalent “transposition” het ...
Dit is dus ’n jongerige geleentheid, maar die bestaan van die verskynsel “vertaling” is natuurlik so oud soos die mensheid self.
Daardie eerste klanke waarmee iemand iets benoem het, die “ding” verwoord het, ’n naam kon gee, het die essensie van vertaling bevat. En toe daardie spreker ander om hom kon oortuig om die betekenis van die “woord” te aanvaar, het vertaling dadelik ingeskop.
Ons dink natuurlik nie meer vandag só oor of aan vertaling nie, maar eintlik het niks verander nie. Soms is dit skynbaar eenvoudig: ’n tweetalige woordeboek oortuig ons van die moontlike “betekenis” van die woordding wat iemand anders gebruik en ons verstaan dan wat sy of hy sê of skryf. Maar as die konteks verander, die betekenis verdig, soos in ’n slim prokureur se kontrak of ’n roman of, behoede ons, ’n gedig, word die verstaan van die “werklike” betekenis al hoe moeiliker.
[Ver]taalkontekste is natuurlik so wyd soos die Heer se genade, maar vanjaar se Vertaaldag-tema,“Translation unveils the many faces of humanity”, wil waarskynlik veral klem plaas op die funksie van letterkunde-in-vertaling.
Om te wys hoe moeilik en gevaarlik vertaling kan wees, hoef ’n mens net te kyk na die verskillende moontlikhede wat opduik as jy die tema self bekyk. Want “unveils” klink so glashelder en duidelik, maar met drie of vier Afrikaanse vertaalekwivalente, spring ander invalshoeke in die oog. Dink maar aan “lig die sluier op”, “onthul”, “ontmasker” of “lê ... bloot”.
En “humanity”dan? Die “mensdom”? “Menslikheid”? “Mensheid”?
Waarskynlik wil die tema ons daaraan herinner dat letterkunde ’n baie persoonlike perspektief bied op die taalgemeenskap waartoe die skrywer behoort of waaroor sy of hy met redelike insig en kennis skryf.
Die outeur se perspektief mag natuurlik bitter “subjektief” wees en “onbetroubaar” en die vertaling daarvan dus eweneens.
Dink maar net aan die honderde belangrike tekste [en wat oor die jare vertaal is], maar watdie laaste ruk rondom verskillende fasette van politieke dienstigheid op die ashoop beland het. Want die aangesig, voorkoms, aanskyn van die mensdom en mensheid verander voortdurend.
“Taalgemeenskap” is natuurlik reeds ’n moeilike begrip, soos dit bv. blyk uit die reaksie op Erwin Mortier se roman, Godenslaap. Mortier is Vlaming, maar die roman is in Nederlands geskryf. Bestaan daar iets soos ’n roman wat in Vlaams geskryf is? Wat,op stuk van sake, is ’n “Dutch novel”?
Die romanwerklikheid is oorwegend Vlaanderen, groot dele in “Flanders fields”, waaroor John McCrae so aangrypend geskryf het (i) ,dus in België. Hierdie wêreld ken Vlaminge goed, selfs die spreekwoordelike derde en vierde geslag. Die roman herbevestig dus dié bewussyn, sonder om sluiers te lig of dinge bloot te lê, maar maak eietydse Vlaamse lesers [ook lesers uit die tweede geslag] bewus van waardes en oordele wat rondom ander aspekte van ons menswees verander het.
Godenslaap bevestig hierdeur die feit dat alle letterkunde die funksie vervul wat die tema van vanjaar se Internasionale Vertaaldag is. Dit is die trefkrag van goeie tekste: dat dit groter en ander ruimtes van ons mensdom ondersoek en belig, nuwe perspektiewe onder die leser se aandag bring.
Hoe suksesvol Godenslaap in hierdie opsig was, kom na vore in ’n oorsig/resensie wat ’n Nederlandse hoërskoolleerling oor die roman skryf. ‘n Mens moet in gedagte hou dat die grootste gedeelte van die moontlike lesers Nederlanders sou wees en dat die roman in terme van “landelikheid” dus as ‘n tipe vertaling, ʼn oorplasing beskou kan word.
Sy skryf onderandere die volgende:
De levensgeschiedenis van Hélène Demont (meer dan 100 jaar oud wanneer ze het verhaal in schriften opschrijft) loopt parallel met de geschiedenis van een werelddeel. Een van de onderbelichte periodes in de Europese geschiedenis (zeker in de Noord-Nederlandse literatuur) is die van de Eerste Wereldoorlog. Door de neutraliteit van Nederland heeft die eerste oorlog niet al te veel indruk gemaakt en wordt er in de literatuur niet veel over geschreven, in tegenstelling tot de Tweede Wereldoorlog. Maar voor de Vlamingen is dat anders. De verschrikkingen van de loopgravenoorlog hebben zich voor een deel op Belgisch grondgebied afgespeeld en die verschrikkingen waren voor de gewone man bizar. Veel mannen werden als kanonnen vlees opgeroepen en gebruikt en keerden of nooit terug of zwaar gehavend. Die [Hierdie – F.O.] spiegeling van menselijk drama en wereldgeschiedenis wordt in Mortiers roman beschreven en hij doet dat op een al even indrukwekkende manier.
Die bespreking gaan verder en op ʼn pragtige manier [effens tegnies geredigeer] word die tema van die Vertaaldag, soos dit in Godenslaap gestalte kry, geïllustreer:
Daarom wordt “Godenslaap “een roman over oorlogstijd, gedragingen in oorlogstijd (prostitutie, heulen metde vijand), dood en verderf, escapisme, familierelaties, coming of age van eenpuber, inwijding in het leven/ de liefde,verliefdheid en liefde, homoseksualiteit, het noodlot en berusting in de loopzoals het leven je wordt voorgeschoteld.
Inderdaad dus ’n boek wat verdien om vertaal te word. Ook in Afrikaans.
***
As ons oor vertaling in of na Afrikaans gesels, is dit belangrik om te onthou hoekom dit destyds belangrik was.
Daar was ʼn eeu gelede geen sprake van ʼn Afrikaanssprekende middelklas nie en lees was in baie opsigte moeilik. Nederland was ver, en Nederlands het geleidelik steeds moeiliker geword om te lees. Engels en Engelse fiksie, daarenteen, is buitendien ook verbind met die taal van die imperialis of die verdrukker, soos dit deesdae genoem sou word, en dit was te verstane dat daar daarom onwennigheid sou wees om Engels te lees.
Fiksie wat in die opkomende moedertaal beskikbaar was, het in ieder geval hoofsaaklik die Suid-Afrikaanse landskap [geografies, maatskaplik en histories] as agtergrond gehad.
Die “many faces of humanity” in hulle verskillende gedaantes was dus nie sommer toeganklik vir die Afrikaners nie en dit was daarom dat die uitgebreide projek om groot tekste uit die wêreldliteratuur in Afrikaans te vertaal en publiseer van stapel gestuur is.
Dit is inderdaad merkwaardig om te sien hoe hierdie projek, wat oor omtrent twee dekades vanaf die veertigerjare gestrek het, onder andere met die Libri-reeks, die wêreld [letterlik en figuurlik] vir Afrikaanse lesers van uiteenlopende ouderdomme oopgemaak het. En dit, ironies genoeg, terwyl die sosio-politieke program die baie gesigte en aansigte van die omringende Suid-Afrikaanse werklikheid en menslikheid probeer reduseer en onttaal het.
[Ek kan natuurlik nie nalaat om die groot rol wat die reisende toneelgeselskappe, deur middel van vertalings uit Engels, Duits en Frans, gespeel het om wêrelddrama, met alle moontlike fasette en voorstellings van ʼn gedeelde medemenslikheid, na alle uithoeke van die Afrikaanse gemeenskap te bring nie.]
***
En waarheen vandag met vertalings na/in Afrikaans? Waarskynlik is die meeste Afrikaanssprekende lesers so goed vertroud met Engels dat die nodigheid om nuwe belangrike romans uit die Britse, Ierse, Australiese en Amerikaanse letterkundes te vertaal, verdwyn het. Dit bly egter bitter nodig dat hierdiewerk [ook poësie, natuurlik] deur middel van aankondigings en besprekings in Afrikaanse koerante en tydskrifte, en webtuistes soos LitNet, onder lesers se aandag gebring word.
Die situasie is natuurlik anders met letterkunde uit ander tale, almal van hulle wat op hulle eie unieke manier hierdie “many faces of [a common] humanity” voorstel en oordra. Die groot vraag is of daar geld gaan wees vir uitgewers om vertaalregte aan te koop en vertalers te betaal, terwyl die potensiële lesersmark dalk [allengs?]kleiner word. Of sal die vertalings [altyd met al die gevare rondom vertaling] in Engels maar die wyse wees waarop Afrikaanse lesers daarmee kennis sal maak.
Juis daarom is die wonderlike moontlikhede wat die Nederlandse [= Dutch] Letterenfonds en Literatuur Vlaanderen aan ons bied om deur middel van stewige subsidies Afrikaanse vertalings uit Nederlands [ook met baie gesigte] te maak en te publiseer,iets om voor dankbaar te wees.
Op stuk van sake is Afrikaans, Nederlands en Vlaams aan mekaar verwant, taalkundig gesproke. Die mooiste ding wat ek rondom my vertaling van Godenslaap gelees het, was dan juis Erwin Mortier se opmerking op sy Facebook-bladsy na aanleiding van die SAAWK se Vertaalprys: “Hij heeft diep invoelend, en met indrukwekkende eruditie en precisie mijn dierbaarste roman naar onze zustertaal, het Afrikaans, hertaald.”
En terselfdertyd gee vertaling uit Nederlands in/na Afrikaans vir die vertaler die geleentheid om daardie ryk skat “Nederlandse” woorde, dáárdie “humanity”, wat ook in Afrikaans bestaan, weer sigbaar en hoorbaar te maak: “O, die dans van ons Suster!”
***
En wat gebeur straat-af, hoek-om, anderkant die riviere en agter die berge? Hoekom lees ons nie werk in vertaling uit die swart skrywersgemeenskap in Suid-Afrika nie? Dit is moeilik om te glo dat daar nie beduidende skrywers is wat belangrike fiksie in ons swart landstale skryf nie... Waar is die taal- en letterkundedosente se bydrae om sulke tekste bekend te stel, te vinde? Word hierdie tekste ooit vertaal? En, indien wel, dan altyd in Engels? Selfs dan: hoe weet ek waarna om te soek?
Onthou: “Translation unveils the many faces of humanity.”
***
Ten slotte: hoe sluit ons nuwe vennoot, Kunsmatige Intelligensie [AI], aan by die tema van 2023 se Internasionale Vertaaldag? Kan hy/sy/dit saamgesels, saampraat en saamvertaal. Ek dink nie so nie.
Vroeg in hierdie stuk [wat te lank geword het, jammer!] het ek geskryf dat die tema ons waarskynlik daaraan herinner dat letterkunde ’n baie persoonlike perspektief bied op die taalgemeenskap waartoe die skrywer behoort, waarop die skrywer reageer of waaroor sy of hy met redelike insig en kennis skryf.
Die bronteks bly, soos Kloos destyds geskryf het, op ʼn manier altyd die “allerindividueelste expressie van de allerindividueelste emotie”.
Dit is daardie persoonlike, unieke perspektief op, ervaring van, insig in die werklikheid van menswees wat Neef Komper nooit kan hê nie. Niggie mag wéét wat woorde beteken, maar sal dit nooit kan belééf nie.
Êrens anders het ek geskryf dat alles wat ʼn vertaleral gelees het en dalk self mag geskryf het, maak wat hy of sy is wanneer die vertaling begin.(ii) Ek sou in die konteks van hierdie stuk ook moes byvoeg: alles wat die vertaler beleef het en dus van menswees leer ken het. Maar die vertaler moet, het ek geskryf, ook respek hê vir die woord, aanvoeling vir die aanslag, die toon en ritme, in die bronteks se taal. Sy of hy moet die taal op die bladsy kan hóór. En weet hoe die konteks van daardie woorde resoneer rondom die tydvak waarvan en waarin die storie vertel word en waarin dit verskyn.
En dieselfde geld vir die vertaler, behalwe dat hy dan op twee stoele sit.
KI-vertalings sal [sekere] proefskrifte redelik betroubaar kan vertaal, memoranda eweneens, en persverklarings. Dalk nog Elon Musk se jongste brief en ʼn onderhoud met Siya Kolisi. Maar in en rondom die letterkunde is die “faces” te veel en te genuanseerd, en die “humanities” eindeloos te ingewikkeld om die mas op te kom.
(i) https://www.poetryfoundation.org/poems/47380/in-flanders-fields
(ii) https://voertaal.nu/tweespraak-met-fanie-olivier-laureaat-van-de-vertaalprijs/