Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Onthou jy nog die lang toue mense wat geduldig gewag het om hul kruisie te trek, baie vir die heel eerste keer, met die eerste demokratiese verkiesing in 1994? Dit was April, ʼn aangename sonnige dag. Daar was ʼn feestelike atmosfeer in die lug.
Demokrasie het uiteindelik aangebreek in Suid-Afrika. Baie mense dink dat ʼn grondwet die versinnebeelding van ʼn demokrasie is. Hulle is verkeerd. Apartheid Suid-Afrika het tog immers ook ʼn grondwet gehad. ʼn Ware demokrasie word verteenwoordig deur net ʼn paar klousules in enige grondwet, die Handves vir Menseregte. Dié handves spel elke mens se regte uit, soos gelykheid, waardigheid, selfs die regte wat mens het wanneer die polisie jou toesluit.
Dis waaroor daai eerste verkiesing gegaan het. Ons regte as mense, almal gelyk, is bevestig. Ons het gestem vir ʼn regering wat ons belowe het dat mense nooit weer in polisieaanhouding op stukkies seep gaan gly en sterwe nie. Niemand kan ons van ʼn strand wegjaag oor die kleur van ons vel nie. Ons kinders kan skool toe gaan. Ons kan klinieke en daghospitale besoek en gehelp word selfs al het ons nie geld om te betaal nie.
Vir die eerste keer kon ons kop omhoog deel van die wêreldverhoog uitmaak. Ons is ʼn demokrasie en ons burgers se menseregte word gerespekteer. Ons het selfs ʼn spesiale vakansiedag om ons te herinner aan ons menseregte.
Dit was die ooreenkoms wat ons daai dag met die trek van ʼn kruisie aangegaan het.
Ons het een van die mees gevorderde, innoverende en moderne grondwette in die wêreld. Ons Handves vir Menseregte maak gevestigde demokrasieë groen van jaloesie. Nuwe demokrasieë gebruik ons grondwet en veral ons handves vir menseregte as bloudruk vir hul eie. Ons wetgewing om geslagsgebaseerde geweld te bekamp en geslagsgelykheid te bevorder, word eweneens as bloudruk in ander lande in Afrika gebruik.
In 2023 lyk die prentjie nie meer so rooskleurig soos wat dit in 1994 was nie.
ʼn Kind verdrink in ʼn putlatrine. Pasiënte sterf in hospitale terwyl verpleegpersoneel buite staak. Studente vernietig universiteitseiendom oor onbetaalde fooie. Die land word lamgelê deur ʼn energiekrisis wat voortsleep en skynbaar nie opgelos kan of wil word nie. Die ekonomie, alreeds verswak deur die effek van ʼn pandemie, word in intensiewe sorg geplaas deurdat ons op ʼn gryslys geplaas word weens nienakoming van korrupsievoorkomende maatreëls.
Geslagsgebaseerde geweld vier hoogty. Werkloosheid skiet die hoogte in, en so ook misdaad. Armoede neem toe, en gepaardgaande daarmee raak kos al duurder.
Korrupsie is toenemend die norm eerder as die uitsondering.
Dit is die agtergrond waarteen Suid-Afrikaners Menseregtedag gedenk. Die Suid-Afrikaanse regering se leuse is “#LeaveNoOneBehind- walk for your rights”. Ironies, aangesien daar omtrent nie ʼn kategorie mense is wat nié agtergelaat word nie.
Die Handves vir Menseregte belowe toegang tot opvoeding vir almal. Maar die gehalte van die opvoeding? Ons jongmense word ʼn onreg aangedoen met die swak opvoeding wat hulle ontvang. Teksboeke vergader stof in streekskantore en word nooit by skole afgelewer nie. Leerders kry nog steeds onderrig onder bome. ʼn 30%-slaagsyfer mag dalk sorg vir goeie statistieke, maar dit berei geen leerder voor vir ʼn lewe van voorspoed, vooruitgang en uitnemendheid nie.
Putlatrines by skole dertig jaar na demokrasie kan nie meer verskoon word nie. Dis nie net ʼn klap in die gesig vir arm leerders nie, dis ʼn verbreking van die reg op waardigheid wat in ons handves verskans is.
Ry maar met enige hoofpad in enige dorp of stad, en jy word gekonfronteer met die aangesig van lendelam plakkershutte in al groterwordende plakkerskampe. Ek weier om dit informele nedersettings te noem. Ek weier om een van die afgryslikste nalatenskappe van die huidige regering op te dollie met mooi woorde. Mense lewe in haglike omstandighede, waar die naaste bos hulle ablusiefasiliteit is, met gebrekkige toegang tot lopende water omdat hulle nie ʼn prioriteit is vir die regering nie. Elke keer dat ek ʼn plakkershut sien, hoor ek daai honende “Nkaaaandlaaa” wat ons vorige president tydens ʼn parlementêre sitting geuiter het. Daar is bitter min te sien van die reg tot behuising wat ons handves ons belowe.
Daar word spoggerig openbaar dat ons elektriese treine en motors gaan gebruik, terwyl ons elektrisiteitsvoorsiener beswaarlik die ligte in ons huise en kantore kan aanhou vir ʼn volle vier en twintig uur in die dag. Hoeveel meer mense gaan agtergelaat word wanneer die elektriese treine nie die stasie kan verlaat nie, en die elektriese motors nie by ʼn werkende kragbron ingeprop kan word om te laai nie?
Wat het geword van die regte van vroue en kinders waaroor ons destyds so opgewonde was? Daar kan nie veel gelykheid wees tussen die geslagte so lank as wat vroue en kinders nog steeds in een asem genoem word nie. Geslagsgebaseerde geweld word deesdae as ʼn pandemie op gelyke vlak met Covid-19 genoem. Anders as met Covid-19 is daar geen daadwerklike optrede om die euwel hok te slaan nie. Seksuele en geweldsmisdade neem toe. Arrestasies en skuldigbevindings, aan die ander kant, neem af.
Die regering het in 2018 belowe om hulle begroting vir die gratis verskaffing van sanitêre produkte aan skooldogters te vergroot. Die begroting is goedgekeur, maar teen einde 2022 was daar nog steeds na raming ongeveer sewe miljoen skooldogters wat uit die skool bly omdat hulle nie toegang het tot sanitêre produkte nie. Wat het van die geld geword, want dit was beslis nie gebruik om sanitêre produkte aan te koop nie?
Die woorde Life Esidimeni het sinoniem geword met ʼn hartelose minagting van die regte van geestesongestelde persone. Een honderd vier en veertig mense het gesterf nadat tweeduisend pasiënte uit veilige sorg by Life Esidimeni hospitaal geneem is en versprei is tussen ʼn aantal versorgingsoorde. Nieregeringsorganisasies het gewaarsku die plan is onveilig en nie in pasiënte se beste belang nie, hulle het optogte gehou, hulle het hofbevele gekry. Ten spyte van al hierdie aksies het die Gautengse Departement van Gesondheid voortgegaan met hul plan om pasiënte te verskuif, met die gevolglike wreedaardige sterftes. Ten minste een en veertig pasiënte is nog steeds soek. Geen politieke koppe het gewaai hieroor nie, nie een enkele persoon het in ʼn kriminele hof verskyn om verantwoording te doen vir hierdie sterftes nie. Feitlik agt jaar later is die geregtelike ondersoek om skuld te bepaal steeds aan die gang.
Verouderde infrastruktuur soos water-en rioolpype is besig om in duie te stort, met die gevolg dat watervoorsiening selfs in meer gegoede areas onvoorspelbaar raak. Natuurlik het die meeste mense wat dit kan bekostig, alreeds boorgate laat sink. Weer word die armste mense oorgelaat aan die genade van gebrekkige regeringsvoorsiening.
Die drome van 1994 is nou net ʼn nostalgiese herinnering aan ons kinderlike naïewiteit.
Ons probleem is nie dat ons nie menseregte het nie. Ons probleem is baie eenvoudig dat die regte wat ons het grootliks papierregte is. Dit word nie toegepas of afgedwing nie. Die regering aan wie ons die verskansing van ons regte toevertrou het, het hul snoete so diep in die korrupsietrog dat hulle geen belang meer daarby het om die regte ding te doen nie, wat dit ook al mag wees.
Dis maklik om moedeloos hande in die lug op te gooi en boedel oor te gee. Dis maklik om te sê een mens kan nie ʼn verskil maak nie. Dis veel meer uitdagend om te besef dat die kontrak wat ons die afgelope drie dekades elke dag sluit, is vir die regte van mense, nie vir politieke partye of regeringsamptenare nie. Saam kan ons op ons regte aandring. Saam kan ons ons eie en mekaar se regte respekteer.
Daar is ʼn spreekwoord wat sê “If you want to go fast, go alone. If you want to go far, go together”.
Kom laat ons hierdie Menseregtedag niemand agterweë laat nie. Dis tyd dat ons aandring op die verwesenliking van gelyke regte vir almal.