Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Daar is ’n gesegde dat as jy wil weet hoe dit met ’n land gaan, kyk na die toestand van haar vroue. Ons herdenk hierdie jaar 30 jaar van demokrasie in Suid-Afrika en hoe lyk ons geslagsgelykheid nou? Op 9 Augustus vier ons die 1956 opmars van vroue na die Uniegegebou om hul petisie aan die regering te oorhandig waarin hulle aangedring het op die einde van Apartheidpasse en menseregte. Die stryd om geslagsgelykheid het dus lank voor die oorgang na demokrasie begin en ons moet daardie vroue wat die vlammetjie aan die lewe hou bedank.
Die ANC was tot dusver die enigste party met 'n 50% kwota vir vroue in die parlement. Tot en met die 2024-verkiesing het Suid-Afrika 45% vroue in die parlement gehad, maar omdat die ANC 71 setels verloor het, beteken dit dat hulle ongeveer 35 vroue verloor het (hulle gebruik 'n Zebra-lys - elke tweede naam dié van 'n vrou op die Proporsionele Verteenwoordiging-lys). Die persentasie het dus gedaal. Daar was wel 'n aansteeklike effek (congtagion effect) na ander partye. Die DA het ongeveer een derde vroue en die EFF gebruik ook 'n zebra-lys. Suid-Afrika het na die 2024-verkiesing ongeveer 35% vroue in die parlement. Daar is 14 vroue uit 32 ministers. Dit wys dat beskrywende verteenwoordiging wat net na getalle verwys, goed is. Die vraag is of vroue in die parlement bydra tot substantiewe verteenwoordiging deur vrouebelange op die politieke agenda te plaas en ominsette in wetgewing en beleid te maak.
In die laaste drie parlemente het vroue baie min bygedra tot substantiewe verteenwoordiging. Die Ministerie (Departement) vir Vroue, Jeug en Mense met Gestremdhede is swak en disfunksioneel met, byvoorbeeld, baie min sigbare uitsette rondom geslagsgebaseerde geweld, een van die grootste uitdagings vir Suid-Afrika se demokrasie. Geslagsgelykheid word ernstig belemmer deur die baie hoë vlakke vanseksuele en huishoudelike geweld in Suid-Afrika.
Een van die belangrikste rolle vir ministers is, byvoorbeeld, om oorsig te bied oor die implementering van wetgewing en beleid. Ons het baie goeie wette, maar hulle word nie geïmplementeer nie. Daar moet 'n vasberadendheid wees om die Nasionale Strategiese Raamwerk oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (Femicide) te implementeer. Vir hierdie plan om te werk, moet daar geld begroot word vir implementering. Dit is onduidelik hoe geld toegewys en aangewend word vir die implementering.
Suid-Afrika se oorgang na demokrasie in 1994 het 'n geleentheid gebied vir die bevordering van vroueregte. Die Women’s National Coalition, die nasionale vrouebeweging, het vroue gemobiliseer rondom 'n Vrouehandves, en baie van die eise daarin is in die Grondwet en Handves van Regte opgeneem.
Feministiese aktiviste en akademici het gepleit vir 'n omvattende nasionale geslagsmasjinerie (NGM) om vroue se gelykheid binne staatsstrukture te bevorder. Dit het strukture binne en buite die staat ingesluit om vroue se eise te kanaliseer. Daar was die Kantoor op die Gelykheid en Status van Vroue in die Presidensie, die Vrouebemagitingseenheid in die Kantoor van die Speaker. Die veelparty koukus vir vroue in die parlement, die Gesamentlike Moniteringskomitee op Geslagsgelykheid en die Status van Vroue het al die ander staatsdepartemente gemoniteer vir hul pogings om geslagsgelykheid te bevorder. Buite die staat is daar die Kommissie vir Geslagslykheid wat grondwetlike beskerming geniet in Hoofstuk 9 van die Grondwet [1].
Teen 2009 is die meeste NGM-strukture egter teruggerol toe President Zuma se administrasie oorgeneem het. Toe is 'n Ministerie vir Vroue, Jeug en Mense met Gestremdhede geskep, wat grootliks ondoeltreffend is omdat die mandaat te groot is en baie min substantiewe verteenwoordiging in beleidmaking deur hierdie Departement gedoen word.
Die Suid-Afrikaanse Handves van Regte verbied diskriminasie op 17 gronde, insluitend geslag, gender, seksuele oriëntasie, huwelikstatus, en swangerskap. Die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 het dieselfde-geslag (gay) huwelike gewettig, met 2240 sulke huwelike wat teen 2021 voltrek is.
Die eerste parlement (1994-1999) het verskeie vrouvriendelike wette aanvaar, insluitend die Wet op Erkenning van Huwelike onder Gewoontereg, die Wet op Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap, die Wet op Onderhoud, en die Wet op Gesinsgeweld. Die implementering van hierdie wette is egter uitdagend weens 'n gebrek aan geslagsresponsiewe begrotings en gebrekkige afdwinging deur staatsgesag (byvoorbeeld polisie in die geval van gesinsgeweld). ’n Ander belangrike wet is die Wet op Seksuele Misdrywe wat onlangs geamendeer is om dit meer toeganglik vir vroue temaak.
[1] As u meer hieroor wil lees sien Gouws, Amanda (2022) Feminist Institutionalism inSouth Africa: Designing for Gender Equality. Stellenbosch: SUNMedia.
Geslagsgebaseerde geweld bly 'n beduidende kwessie. Suid-Afrika het een van die hoogste koerse van seksuele oortredings en verkragting wêreldwyd. In 2022-2023 was daar 53,498 aangemelde seksuele oortredings, waarvan 42,780 verkragtings was (SAPS statistiek). Die vrouemoordkoers is vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde. In reaksie op vroue-aktivisme (#TotalShutDown) het die regering in 2018 'n Nasionale Strategiese Plan vir Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord aangeneem, maar die implementering daarvan was stadig weens beperkte hulpbronne.
Suid-Afrika worstel met hoë werkloosheid, ongelykheid en armoede. Die werkloosheidskoers in die derde kwartaal van 2023 was 32% (44% as ontmoedigde werksoekers ingesluit word). Vroue word buite verhouding geraak deur armoede en werkloosheid, en staan dikwels aan die hoof van enkelouerhuishoudings. Die regering voorsien maatskaplike toelaes as 'n veiligheidsnet, met 20 miljoen Suid-Afrikaners wat een of ander vorm van toelaag ontvang.
Vroue-aktivisme het sedert 1994 ontwikkel, en verskuif van 'n verenigde nasionale beweging na wat beskryf kan word as "gelokaliseerde tydelike bewegings". Hierdie bewegings organiseer rondom spesifieke kwessies of wette, soos die Shukumisa-veldtog wat gesorg het dat die Wet op Seksuele Misdrywe deur die parlement aanvaar word en die Alliansie vir Landelike Demokrasie se teenkanting teen die Wetsontwerp op Tradisionele Howe, wat totaal ongrondwetlik was deur voorsiening te maak daarvoor dat vroue deur mans in hierdie howe verteenwoordig word wat beteken dat vroue geen stem in hierdie howe sou hê nie. Voorts kon vroue lyfstraf of harde arbeid as vonnisse opgelê word. Hierdie wetsontwerp is verwerp as gevolg van hierdie aktivisme en die solidariteit van die Kommissie vir Geslagsgelykheid.
Die 2015/2016 studenteproteste, bekend as die Fallist-beweging, het institusionele kulture by histories wit universiteite gekritiseer en aktivisme teen verkragtingskultuur op kampusse aangewakker. Die #EndRapeCulture-veldtog was ’n aanklag teen universiteite dat hulle nie verkragtingskultuur ernstig opneem nie. Vrouestudente het protesoptogte gehou sonder bostukke of in hul onderklere. Dit was ’n poging om te sê dat mans vroue se liggame objektifeer en seksualiseer. Dit hou egter ook verband met lang Afrikatradisies waar vroue hul klere uittrek om aan te dui hoe kwaad of ontnugter hulle is. Dit het universiteite gedwing om Verkragtingskultuur Taakspanne aan te stel om verkragtingskultuur te ondersoek.
Na 30 jaar van demokrasie is die vordering in vroue-bemagtiging en LGBTIQ en trans-regte onewewigtig. Onlangse regeerkundekwessies, insluitend korrupsie, staatskaping en onvoldoende dienslewering, het van die vroeëre vordering ondermyn.
Sleutelprestasies vir vroueregte in Suid-Afrika sluit in:
- Grondwetlike beskerming teen diskriminasie.
- Verhoogde politieke verteenwoordiging.
- Progressiewe wetgewing oor kwessies soos aborsie, seksuele en huishoudelike geweld.
- Wettiging van dieselfde-geslag huwelike en huwelikke onder gewoontereg.
- Sigbaarheid van LGBTIQ-regte.
Voortdurende uitdagings sluit in:
- Hoë koerse van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord.
- Werkloosheid en ekonomiese ongelykheid (wat vroue disproporioneel beinvloed)
- Oneffektiewe implementering van progressiewe wette.
- Disfunksionaliteit van geslagsmasjinerie binne die staat.
- Volharding van tradisionele patriargale houdings.
Die toestand vanvroue in Suid-Afrika na 30 jaar van demokrasie weerspieël beide beduidende vordering en voortslepende uitdagings. Terwyl die wetlike raamwerk vir geslagsgelykheid sterk is, bly implementering en maatskaplike verandering agterweë. Ekonomiese ongelykhede en geweld teen vroue bly groot struikelblokke vir volle gelykheid. Vroue-aktivisme speel steeds 'n deurslaggewende rol in die strewe na verandering, en pas aan by nuwe politieke realiteite deur te fokus op spesifieke kwessies eerder as om as 'n verenigde nasionale beweging te funksioneer.
Soos Suid-Afrika vorentoe beweeg, sal die aanspreek van geslagsgebaseerde geweld, die verbetering van ekonomiese geleenthede vir vroue, en die versekering van effektiewe implementering van bestaande wette van kardinale belang wees om die geslagsgelykheid te bereik wat by die aanbreek van demokrasie in die vooruitsiggestel is.