Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Nasionale wetenskapsweek: Om die basiese wetenskappe se rol in die moderne wêreld te vier

3/8/23
Prof Debra Meyer

Adjunk-visekanselier by Sol Plaatje Universiteit

Prof Debra Meyer is 'n professor in biochemie en molekulêre biologie, en adjunk-visekanselier by Sol Plaatje Universiteit. Sy was voorheen uitvoerende dekaan van die Fakulteit Wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg. Prof Meyer het 'n PhD in Biochemie en Molekulêre Biologie aan die Universiteit van Kalifornië, Davis in die Verenigde State voltooi en 'n Meestersgraad in Biochemie aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Sy het ook leierskapopleiding by ‘Harvard Business School’ en die Universiteit van Pretoria se ‘Gordon Institute of Business Science’ voltooi. Prof Meyer het meer as 100 akademiese referate en konferensieverrigtinge oor MIV/VIGS-navorsing gepubliseer en meer as 35 meestersgraad- en PhD-studente opgelei, hoofsaaklik vroue. Debra Meyer het deeltyds die weer vir meer as 12 jaar in Afrikaans op SABC 2 aangebied. In 2014 was sy mede-skepper en aanbieder van een van kykNet se top tien programme genaamd “Debra deel”. Sy is nie-uitvoerende direkteur by Naspers / Prosus en trustee van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en Dagbreektrust, en direksielid van die Mos Initiatief. Prof Meyer is 'n sosiale regte-aktivis wat fokus op MIV/VIGS, vroueregte,veeltaligheid en multikulturalisme in Suid-Afrika. Sy het verskeie toekennings ontvang vir prestasies in wetenskap en gemeenskapsdiens.

Prof Debra Meyer
Prof Debra Meyer

Adjunk-visekanselier by Sol Plaatje Universiteit

Lees meer

Die basiese wetenskappe is dit waarvan almal van ons ’n bietjie moet weet om ons wêreld beter te verstaan, terwyl dié wat baie daarvan weet ons lewens aansienlik makliker maak deur die gebruik van die kennis. 

n Goeie begrip van wiskunde, biologie, fisika en chemie help ons om natuurlike verskynsels te verstaan. Die dissiplines is ook die rede waarom ons as mens grootliks ’n gemaklike bestaan op aarde voer. Dink maar net aan die menigtes tegnologieë en produkte wat deur basiese wetenskaplike navorsing ontdek is. Chemiese navorsing het byvoorbeeld bygedra tot die ontwikkeling van landbouchemikalieë soos kunsmis en plaagdoders wat landbou-opbrengste aansienlik verhoog het. Ontdekkings in chemie het ook medikasie vir die behandeling van verskeie siektes opgelewer, terwyl uitvindings in fisika die grondslag gelê het vir die ontwikkeling van elektrisiteit, elektronika, draadlose netwerke en hernubare energieprodukte soos sonpanele enwindturbines. Die grondslag van die rekenaarwetenskappe is wiskunde wat ondermeer vir ons rekenaars, die internet en onlangs skeppende kunsmatige intelligensie soos ChatGPT verskaf het. Dis nog onseker oor presies wat laasgenoemde se impak op ons lewens gaan wees, maar as ons daarmee saamwerk is die kanse op innovering waarskynlik soveel groter. Biologie help met begrip van die meganismes van die menslike liggaam en die siektes waaraan ons blootgestel word, en het tot aansienlike mediese vooruitgang gelei. As voorbeeld hiervan is die entstowwe wat die voorkoms van aansteeklike siektes verminder en siektes soos polio, masels en Covid-19 gestuit en miljoene lewens gered het. Biologiese navorsing het ook die volgende gelewer: antibiotika, insulien geproduseer deurrekombinante DNS-tegnologie en die deel van forensiese wetenskappe wat te makehet met die oplos van misdaad deur DNS-analise. 

Kennis verkry uit die basiese wetenskappe het ons so gemaklik gemaak dat die mensdom vele besluite geneem het wat nou die voortbestaan van die aarde bedreig, en dit is weereens die basiese wetenskappe wat oplossings vir die benarde situasie bied. Navorsing in biologie en omgewingswetenskap help ons om die impak van menslike aktiwiteite op die omgewing te bepaal, om volhoubare praktyke te ontwikkel en ondersteun bewaringspogings. Die basiese wetenskappe is dus onmisbaar vir die oorlewing en vooruitgang van die moderne mens. Lande wat in die basiese wetenskappe belê is meer mededingend en op die voorpunt van tegnologiese vooruitgang. 

Bykomend tot die groot bydrae tot ons lewenskwaliteit, verseker kennis van basiese wetenskappe dat ons komplekse probeme kan aanpak en oplos, probleme soos klimaatsverandering, energievolhoubaarheid en voedselsekerheid vir die meer as 8 miljard mense op ’n planeet waar meer en meer landbougrond vir bewoning gebruik sal moet word. Die aanleer van die basiese wetenskappe bevorder kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede en help ons om bewysgebaseerde oplossings vir komplekse probleme te vind.

LEES VERDER

Bronne