Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Ons loop elkeen deesdae met ’n slimfoon in die hand en kan sommer onmiddellik, op byna enige plek, google wat ons wil weet of vir ChatGPT vra. Gevolglik is memorisering nie meer ’n belangrike vaardigheid nie. Byna niemand leer meer gedigte uit hul koppe nie. Maar een van die min gedigte wat tóg onuitwisbaar in my geheue bly steek, is Van Wyk Louw se
“Ex unguine leonem” uit Tristia:
Ek kan nie opsom: nie ’n lewe, ’n gesprek,
’n tydperk of ’n eeu.
Die klou dui al die dier aan, is gesê –
maar is nog nie die leeu.
Ek vind op hierdie aarde soms ’n volte…
my brein die kry die waan
dat ek, omdat ek sirkel sien,
die sfeer-self kan verstaan.
Wat ek van mense of van God wil meen,
word in my dofheid dof.
Iets staan in sterre-en-helderte geskryf;
en ek skryf na in stof.
Louw is al die hoogste lof toegeswaai. Karel Schoeman het hom immers “Suid-Afrika se grootste digter en een van die min figure van wêreldformaat wat die land nog opgelewer het” genoem. En hy is ook al verguis en afgewys vir sy nasionalisme, sy naïewe geloof in die reddende mag van die skoonheid (in die 1930’s), vir sy “aristokratiese ideaal” – idees wat later getemper is. Of mens egter van sy idees in sy opstelle hou of nie, daaroor kan mens verskil; oor die woorde in hierdie gedig (en trouens die hele bundel, Tristia) is daar egter min twyfel dat dit mens bly roer en steeds laat nadink.
11 Junie is Van Wyk Louw se geboortedag. Hy is op hierdie dag 117 jaar gelede in Sutherland gebore. Dit is haas onmoontlik om aan Afrikaans, aan Afrikaanse poësie of aan denke in Afrikaans of oor die Afrikaner te dink sonder dat sy naam opduik.
Louw word gereken as denker en digter. In sy opstelle vind Plato en Kant en Hegel en Nietzsche Afrikaanse woorde. Hy verwoord helder aaan die moeilikste idees en het vir ons ’n woordeskat gegee om oor baie dinge te praat en dink, met begrippe soos “liberale nasionalisme”, die “oop gesprek”, “lojale verset”. Hoe postief of negatief mens ook hieroor kan voel (dink maar aan Elsa Joubert wat gesê het daar is te veel lojaliteit en te min verset by Louw) die berippe wat hy geskep het, het gespreksmoonhtlikhede oopgemaak.
Ons kan natuurlik nie sy lewe opsom nie, ook nie sy oeuvre of sy bydrae tot die literatuur nie, soos mens nie ooit durf dink dat jy die volte kan sien en vasgryp nie. En dit is miskien juis om hierdie rede wat sy poësie uiteindelik die grootste impak maak, groter as die opstelle. Terwyl die idees in prosa oënskynlik makliker vaspen, verstaan, verduidelik; staan die digkuns dikwels in bietjie meer onsekerheid as tekens wat selfbewus nie vasgryp nie maar tog moontlikhede vir anders dink en voel bly oopmaak.
Anne Michaels het eens geskryf “It is the rut of rhythm that veers the mind” en in Louw se poësie is dit beslis die geval dat die denke in versvorm verder bykom as wanneer dit in die prosa beslag kry.
Koki verwys in Raka na taal as “die fyn net van die woord waarmee ons groot visse vang”. Dit is natuurlik hoekom ons literauur lees en skryf. Ons probeer verstaan en gryp met die fyn net van die woord. En om fyner te gryp vereis sorgvuldiger woordekeuse, versigtiger kies van metafore, nadenke oor die vorm wat emosies roer en denke rig, asook die vermyding van die cliché, want as ons in clichés skryf en taal in clichés gebruik, dan sal ons in clichés bly dink. Poësie is uiteindelik ’n manier van dink wat die taal in beweging hou en om denke in beweging te hou.
In sy opstel, “Oor woordkuns”, skryf Van Wyk Louw dat daar in die literêre kunswerk “drie momente of kragrigtings” onderskei kan word:
In die literêre kunswerk is daar drie momente of kragrigtings wat onderskei maar nie geskei kan word nie: die begripsinhoud; die gevoel, atmosfeer of “gees”; en die sinlike moment, die “inkleding”, die taal, in ‘n baie besondere sin, die “vorm”.
Louw besef dat die drie begrippe (begripsinhoud, emosie en vorm) onpresies is, dat mens nie met skerpomlynde helderheid kan sê wat met elkeen bedoel word nie en hy beklemtoon dat die drie nooit heeltemal van mekaar geskei kan word nie. Daarom gebruik hy die terms “momente” of “kragrigtings” eerder as wat hy beweer dat dit drie “lae” of “onderdele” van literatuur is. Hy skryf oor hierdie saamvervlegting van taal, inhoud en gevoel:
In hierdie vereniging word nie alleen iets nuuts gevorm nie, maar elkeen van die drie momente word bokant homself uit verhewig. Die taal, wat niks anders as die gewone taal van die alledaagse besigheid is nie, word singend en wonderlik; die gevoel wat bloot psigologiese toestand was, miskien deur die buislose kliere en sekresies in die bloed veroorsaak, word ’n magiese saamklink van mense en wêreld; en die begripsinhoud, die logiese sin van die kunswerk word ’n openbaring van die waarheid wat in elke ding of gebeurtenis, tot die nietigste toe, steeds kosmiese waarheid is. (Louw, 1986:525-6).
Vir Louw is die drie “kragte” altyd in ‘n spanning teenoor mekaar. Soms oorheers die idees, soms die gevoel en soms die aandag aan die woord en vorm, maar wanneer hulle almal saamkom, ontstaan vir hom die beste kunswerke.
Wanneer ’n mens ’n verhaal of gedig lees, volg mens in die eerste plek die storie, of jy probeer verstaan waaroor dit gaan, wat dit “beteken”, en gee nie noodwendig aandag aan die taal, die woorde, die struktuur nie. Tog weet ons dat sommige verhale boeiender is as ander, sekere beskrywings oortuigender, lewendiger as ander, sekere tekste is meer genotvol as ander. En wanneer mens ondersoek waarom dit so is, kom mens agter dat die taal op ‘n besonder interessante manier ingespan is, dat die verhaal op ’n buitengewone manier vertel word. ‘n Mens kom dan agter dat die taal nie slegs die draer van die betekenis of die emosie is nie, maar dat dit self iets buitengewoons word. Mens kom ook agter dat jy self emosioneel reageer, dat jou emosie (gedeeltelik ‘n onwillekeurige reaksie) jou aandag op aspekte van die teks vestig, jou interpretasie medebepaal. Die taalgebruik en vorm is nie bloot ’n raak en goeie manier om iets reeds bekends oor te dra nie, dit is self sinvol en bevredigend.
Sedert Louw hierdie geskryf het, is die idee dat ’n kunswerk die “kosmiese waarheid” kan vaspen al geproblematiseer, en in sy eie gedigte het hy ook daarvan afgesien (ons skryf immers na in stof) – die gedig kan bloot ’n teken wees. Maar dat mens soms ervaar dat idee en emosie en vorm so vervleg is dat mens daardeur bietjie verder kan dink, anders kan dink, anders kan voel, is tóg waar.
Ons kry soms geskrifte oor groot en verhewe onderwerpe, artikels deur filosowe byvoorbeeld, maar die “diep” gedagtes maak dit nog nie letterkuns nie. En soms is daar in geskrifte hewige emosies en selfs statistiek kan ’n mens emosioneel roer. Ek is ontstel deur die feit dat meer as 40 000 mense tydens die aardbewing in Turkye dood is, maar al is dit roerend, is die statistiese gegewens nog nie kuns nie. Weer eens Louw:
Hewige gevoel en diep gedagte maak nog nie die kuns nie; maar dan kom die magiese verskyning van ’n paar sinvolle woorde wat in ‘n sekere volgorde na mekaar staan – en die skoonheid is daar. (…) Dit is die menslikste eienskap van die mens dat hy(sy) hierdie wonderlike sintese kan maak wat meer as die dele apart is, en waarin elke deel bokant homself uitstyg: die kunswerk (Louw, 1986:528).
’n Woordkunswerk het nodig om al drie elemente te bevat op ’n manier wat by mekaar aansluit om ’n geheel te vorm waarin hulle eintlik ononderskeibaar is, waarin hulle op so ’n manier saamkom dat die gedagteinhoud diep reik, die woord plesier gee en die emosies geroer sodat ’n morele aspek van menswees ontdek word op ’n manier wat nie andersins moontlik sou wees nie.
Daarom is dit die moeite werd en so maklik om stukke Louw te onthou.