Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Op 7 Februarie 2025 was dit 100 jaar sedert prof. Raymond Dart van die Universiteit van Witwatersrand die ontdekking van die Taung-kind, die eerste voorbeeld van ’n Australopithecus africanus-hominied in die vaktydskrif Nature aangekondig het. Dit was destyds die eerste soort oerhominied wat iewers in Afrika ontdek is. Sodoende is ’n nuwe era van paleoantropologiese uitgrawings en studies in Afrika ingelui, en is destydse idees oor die bakermat van menslike evolusie op die kop begin keer.
As deel van die 100-jarige vieringe is ek gevra om vir ’n spesiale versameling vir Nature se Afrika-gefokusde webblad, Nature Africa, ’n artikel oor 'n hedendaagse Suid-Afrikaanse navorser, dr. Palesa Madupe, te skryf. Dié oud-Tukkie bestudeer die oerproteïene wat sy verkry van die emalje rondom die tande van hominiedspesies om die geslag van spesifieke vondse uit Suid-Afrikate bepaal.
In die proses leef sy haar kleindogtertjie-drome uit om indie veld van paleontologie te werk. Dié molekulêre navorser het haar voete in genomika gevind deur destyds by die Universiteit van Pretoria die genetika van patogene wat bloekombome besmet te bestudeer, en daarna watter mikro-organismes op paddas se velle te vinde is. Daarna was sy gelukkig genoeg om haar doktorsgraad (wat sy verlede jaar verwerf het) in paleoproteomika aan die Universiteit van Kopenhagen te voltooi, en werk sy sedertdien as postdoktorale navorser voort saam met ’n wêreldkenner op die gebied, Enrico Cappellini.
Pas het sy en ander kenners ’n artikel in die South African Journal of Science geskryf oor hoe hulle ’n nuwe nie-skadelike paleoproteomiese tegniek gebruik het om te bepaal dat ’n spesifieke Australopithecus africanus-voorbeeld wat in die Sterkfontein-grotte gevind is, manlik was. Die fossiel is tussen 3 en 2 miljoen jaar oud – en dus die oudste ooit wat aan hul nuwe tegniek onderwerp is. Sy’t vertel hoe besonders dit vir haar is om self te kan bydra tot ’n beter verstaan van ’n oerspesie soos Australopithecus africanus wat so ’n besonderse plek in paleontologie in Suid-Afrika én Afrika het.
Om een oertand uit die betrokke fossiel in Denemarke te kon bestudeer, moes sy spesiale toestemming van Suid-Afrikaanse owerhede kry. Dié het sy al die pad Kopenhagen toe styf vasgeklou in haar handsak, voordat sy dit in Cappellini se laboratorium onder uiters steriele en beheerde toestande kon bestudeer. Volgens dr. Madupe is dié sogenaamde “skoon” laboratorium uiters noodsaaklik om te verseker dat oermonsters nie per ongeluk vermeng word met moderne DNA of proteïene afkomstig van diegene wat daarmee werk nie.
Dr. Madupe het ook vertel hoe dat planne goed vorder om ook aan die Universiteit van Kaapstad se Human Evolution Research Institute soortgelyke geriewe op die been te bring. Die hoop is dat minstens die eerste rondte in die paleoproteomiese proses, om bietjies oerproteïene self vanaf ’n fossiel te versamel, ter plaatse gedoen kan word. Dit sal beteken dat Suid-Afrikaanse vondse en voorbeelde van onskatbare waarde nie meer die land hoef verlaat om dié stap moontlik te maak nie.
Soos genoem het my storie oor dr. Madupe deel gevorm van ’ns pesiale versameling artikels ter herdenking van Dart se artikel in Nature. In my herlees van sy artikel uit 1925 vang my oog reeds in die eerste sin die naam van nog ’n vrou wat ‘n belangrike rol in Australopithecus africanus se “ontstaansgeskiedenis” gespeel het – dié van Josephine Salmons.
Dart het die eerste gedeelte van sy artikel gebruik om kortliks te verduidelik presies hoe hy aan die Taung Kind-skelet gekom het, en het met dié sinne begin: “Towards the close of 1924, Miss Josephine Salmons, student demonstrator of anatomy in the University of the Witwatersrand, brought to me the fossilised skull of acercopithecid monkey which, through her instrumentality, was very generously loaned to the Department for description by its owner, Mr. E. G. Izod, of the Rand Mines Limited. I learned that this valuable fossil had been blasted out of the limestone cliff formation-at a vertical depth of so feet and a horizontal depth of 200 feet at Taungs, which lies 80 miles north of Kimberley...” Hy sluit ook weer sy artikel af met bedankings aan me. Salmons en andere.
My vinnige verdere soeke op die internet na inligting oor Salmons het my laat besef hoe gepas dit is dat ek juis 100 jaar later oor ’n ander vrou – dr. Madupe - kon skryf wat besig is om haar merk in die veld van paleontologie te maak en meer uit te vind oor Australopithecus africanus.
Volgens ’n swart-en-wit klasfoto was Salmons in 1924 die enigste vrou in Dart se anatomieklas. Sy het glo een middag ’n vriendin, Pat Izod, se ouerhuis besoek. Dié se pa was ’n ingenieur en mynbaas (en het, vir interessantheid, die sogenaamde Izod-impaksterktetoets ontwikkel). Aan huis sien Josephine toe op ’n kaggelrak die “cercopithecid monkey” skedel waarna Dart in Nature verwys raak. Op daardie stadium was Dart, ’n Australiër met ’n belangstelling in die brein, redelik nuut by Wits (wat amptelik in 1922 universiteitstatus gekry het), en besig om ’n museumversameling op te bou. Hy’t sy studente uitgedaag om te kyk watter interessanthede hulle vir hom kon bring – en 5 pond op die spel vir die “wenner” gesit.
Salmons het gereken haar vonds is daardie 5 pond werd en het uiteindelik met die Izods se toestemming vir Dart die gefossileerde skedel van ’n Ouwêreldse aapsoort geneem. Salmons het nie die 5 pond gewen nie, maar Dart het wel besef dat daar nog maar min primaatfossiele so ver suid in Afrika gevind is. Daarom het hy vir geoloog prof. Robert Young gaan raad vra. Soos die geluk dit wou hê, was Young op pad Taung toe om op ’n plaas kalksteengesteentes te gaan ondersoek. Hy het kontak gemaak met die mynbestuur daar, en gereël dat soortgelyke fossiele wat uitgegrawe word, na Dart gestuur word.
As dit nie vir Salmons se skerp waarneming en entoesiasme was nie, sou Dart dalk nooit sy visier op Taung gesit het nie. En sou hy dalk nooit ’n kartonboks oopgemaak het met daarin die kleine Australopithecus africanus-skedel met sy mensagtige kenmerke wat ons vandag as die Taung Kind ken nie!