Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Van Standaardafrikaans na algemene Afrikaans

23/6/23
deur Suléne Pilon
Voorsitter van die SA Akademie se Taalkommissie
deur Suléne Pilon
deur Suléne Pilon
Voorsitter van die SA Akademie se Taalkommissie
Lees meer
TK Seminaar - Die einde van Standaardafrikaans?

Die eerste Taalkommissieseminaar het onlangs by die kantoor van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns plaasgevind. Die tema daarvan, “Die einde van Standaardafrikaans?”, is gekies omdat die Taalkommissie (TK) – ná jare se gesprekke oor die kwessie – voortaan nie meer na die variëteit wat in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) beskryf word, as Standaardafrikaans wil verwys nie. Ons wil voortaan geskrewe, algemene Afrikaans in die AWS beskryf. Hiermee sluit ons ook aan by ’n tradisie wat in die taalkundewêreld gevestig raak, naamlik om van algemene Afrikaans, eerder as van Standaardafrikaans te praat.

Dit is natuurlik nie die eerste keer dat die naam en/of die aard van die variëteit wat in die AWS beskryf word, verander nie. In die 1917- en 1921-uitgawe word net van Afrikaans melding gemaak. Dit is te verstane, aangesien daardie eerste uitgawes spesifiek saamgestel en gepubliseer is om Afrikaanssprekers te bemagtig in ’n tyd toe Nederlands en Engels die amptelike tale van Suid-Afrika was. Dit was egter gou al duidelik dat die AWS net een “soort” Afrikaans beskryf. Hierdie variëteit word van die 1937- tot en met die 1964-uitgawe (algemeen) beskaafde Afrikaans genoem. Die term Standaardafrikaans word vir die eerste keer in die 1991-AWS gebruik en sedertdien is dít die naam van die variëteit wat in die AWS beskryf word.

Dieselfde tendens is ook in Nederlands te bespeur – daar het die standaardvariëteit aanvanklik Algemeen beschaafd Nederlands (ABN) geheet, maar sedert die sewentigerjare word daar toenemend van Algemeen Nederlands (AN) gepraat wanneer daar na die standaardvariëteit van Nederlands verwys word.

In die 2017-AWS word daar vir die eerste keer eksplisiet verduidelik wat die TK met Standaardafrikaans bedoel. In die voorwerk word hierdie variëteit soos volg gedefinieer: “Standaardafrikaans is die komplekse resultaat van taalverandering en wysigings oor ’n tydperk van meer as honderd jaar: Die standaardvorm van 2017 lyk allermins soos die standaardvorm wat in 1917 deur die toenmalige SpellingKommissie en WoordelijsKommissie beskryf is. Standaardafrikaans is die dinamiese, lewende produk van kontak tussen die verskillende variëteite wat in die Afrikaanse taalgemeenskap in den brede gebruik word.”

Dat daar ’n behoefte aan ’n eksplisiete definisie van Standaardafrikaans in die jongste uitgawe van die AWS was, dui reeds daarop dat die manier waarop die sprekergemeenskap die term verstaan, verskil van hoe dit deur die TK bedoel word. Sedert die publikasie van die 2017-AWS het die TK baie pogings aangewend om hierdie definisie in die Afrikaanse gemeenskap bekend te maak, maar daar is konnotasies wat aan die term bly kleef. Daar is steeds mense wat dink dit is ’n “gemaakte” variëteit en dat die TK die reëls vir hierdie variëteit uitdink, dit in die AWS opskryf en dit dan op die skrywende volk afdwing. Die TK werk egter al vir meer as 10 jaar toenemend gebruiksgebaseerd: Ons beskryf die variëteit van Afrikaans wat ons in geredigeerde korpora (groot versamelings lopende, geskrewe teks) vind, en ons is allermins besig om reëls uit te dink wat op Afrikaanse skrywers afgedwing kan word.

Sommige mense dink steeds Standaardafrikaans is “wit Afrikaans” waarvan die sprekers van ander variëteite doelbewus “uitgesluit en vervreem” word. Ander dink Standaardafrikaans is “korrekte Afrikaans” of “ordentlike Afrikaans” en dat sprekers van variëteite wat baie van Standaardafrikaans verskil, minderwaardig is, terwyl sprekers van variëteite wat meer met Standaardafrikaans ooreenkom, meerderwaardig is. En dit is presies hierdie wanverhouding tussen wat die TK met die term bedoel en wat Afrikaanssprekendes daaronder verstaan, wat aanleiding gegee het tot die TK se behoefte om ’n nuwe term te vind waarmee die variëteit wat in die AWS beskryf word, benoem kan word.

LEES VERDER

Bronne