Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Die helfte van die wêreldbevolking bestaan uit vroue en jong meisies/dogters – en daarom is dit verblydend en opwindend dat hierdie groep dan ook die helfte van die potensiaal van die wêreld uitmaak. Vroue het die vermoë om vrede te bring, gemeenskappe te laat groei en ontwikkel, die leiers van more groot te maak, maar bo alles – vroue het die spesiale vaardighede/talente om nasies te groei en te laat uitstyg bo hulle vermoëns.
Maar waar pas vroue in die wonderwêreld van die wetenskap in? In 2018 het vroue slegs 33% van navorsers uitgemaak, maar stadig maar seker groei hierdie getalle met pioniers in die wetenskap, die baanbrekers van môre wat vandag ontwikkel word. Dit is egter ook ’n feit dat vroue nog ’n minderheid is in die dissiplines van digitale inligtingstegnologie, fisika, wiskunde en ingenieurswese. Vroue is met rasse skrede besig om hierdie velde te betree. Statistieke van 2021 toon egter dat slegs 13% van STEM- gegradueerdes (“Science, technology,engineering, and mathematics”) vroue is met slegs 7% van ingenieurs is vroue.
Maar gaan dit werklik oor getalle? Of gaan dit oor invloed, uitkomste, impak en die volhoubaarheid van ons samelewing op hierdie brose planeet van ons? Vroue is van nature planmakers, natuurlike vennootskapsoekers en op soek na antwoorde op vrae wat sommige mense ligvoets afmaak en vermy. Vroue is kommunikeerders (op ’n ligter noot – mens kan selfs skinder in die wetenskapswêreld - ’n eienskap waarvan ons ons dikwels goedig beskuldig!)
Vroue is die wêreld se moeders, oumas, versorgers en voeders. En hier is die groot rol van vroue in die algemeen en spesifiek in die wêreld van die wetenskap, nl. om mense te voed deur voedsel te voorsien.
Vrouelike wetenskaplikes is ’n magtige krag in landbou. Hulle werk as bestuurders, telers, plantpatoloë, entomoloë, grondkundiges, veeartse, om maar ’n paar beroepe te noem. Hulle maak merkbare en merkwaardige bydraes tot landbou en landelike areas waar sosiale stabiliteit wat met voedselsekerheid gepaard gaan, so kern is tot ons land se toekoms.
Prof Maryke Labuschagne (een van ons voorste vroulike navorsers in Suid-Afrika, en tans professor in Planteteelt by die Departement van Plantwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat, en ook bekleër van ’n NNS-SARChI-Leerstoel maak in Augustus 2013 in ‘n onderhoud met GraanSA ‘n baie belangrikstelling, te wete: “Uit ‘n wetenskaplike standpunt lyk dit vir my of daar nie genoeg jong mense by landbou betrokke is nie. Dit is asof jong mense nie meer landbou as ‘n loopbaan oorweeg nie. As ons meer jeug kan oplei om produsente, landbouentrepreneurs, voorligters en navorsers te wees, kan ons die volgende generasie van kosproduseerders vanaf die plaas tot by die verbruiker voorsien. Miskien is dit tyd dat ons landbou aan die jeug moet bemark. Hulle moet oortuig word dat hulle ‘n daadwerklike verskil aan die land kan maak deur by landbou betrokke te raak en in die proses kan hulle ‘n goeie loopbaan vir hulself skep”. Elf jaar later is hierdie stelling nog relevant, alhoewel daar ’n stadige, dog beduidende skuif van jongmense na landbou is op soek na nuwe, innoverende loopbaangeleenthede. En hier is vroue besig om die weg te baan om ook vir hierdie groep nuwe loopbane te skep. Ons sien die uitstekende werk wat ons vroulike voedselwetenskaplikes doen, nl. om nuwe innoverende produkte te skep, asook voedsel met besonderse voedsame en unieke eienskappe.
Ek verwys graag na nog ’n fenominale vrouelike navorser wat baanbrekerswerk doen: prof Hettie Schönfeldt, ‘n pionier in voedingsnavorsing wat nasionaal en internasionaal erken word vir haar werk op hierdie gebied. Benewens haar vele rolle in die wetenskap beklee sy ook ‘n NNS-SARChI-leerstoel in Voeding en Voedselsekerheid.
Waarom verwys ek na hierdie twee merkwaardige vroue? Want hulle, tesame met vele ander vroulike navorsers, hou die sleutel tot voedselsekerheid in ons land – hulle navorsing is kern tot plantproduksie en voeding (ook natuurlik voedselwaarde) wat die voedselmandjie in Suid-Afrikase inhoud kan en gaan verseker.
Landbou hou die sleutel tot nuwe loopbaangeleenthede vir jongmense, maar veral vir vroulike navorsers. Hierdie sektor is ’n teelaarde vir innovasie en nuwe denke, en veral vir die transdissiplinêre denke van ons jongmense. Daar is egter ‘n taak wat hard aan ons deur klop, nl. om ons dogters op skool bloot te stel aan landbou en sy vele geleenthede, die wonderwêreld van die wetenskap en die genoegdoening om met oorgawe deel te wees van die voedselproduksiewaardeketting in Suid-Afrika.
Maar hier aan die suidpunt van Afrika is ons ook deel van Afrika, die kontinent waar die wêreld se huidige en toekomstige voedselmandjie gehuisves word. Die vaardighede en kundigheid van die vroue in landbounavorsing en innovasie is die sleutel tot Afrika se ontwikkeling en volhoubaarheid. Afrika onderbenut tans een van sy “grootste juwele”, die vroue in landbouwetenskappe en navorsing. Met hierdie “juweel” kan die uitdagings van die Afrikakontinent suksesvol aangepak word. Die krag van vroue in landbounavorsing moet ontsluit word – en Suid-Afrika kan beslis hier die voortou neem! Vir Afrika! Vir Suid-Afrika! Vir ons voedselmandjie met kwaliteit en voedsame voedsel vir almal!