Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
In ’n wêreld waar, volgens die Verenigde Nasies se webwerf, vroulike wetenskaplikes gemiddeld minder navorsingbefondsing ontvang as hulle manlike kollegas en waar vroue maar een derde van die wêreldwye navorsingsmag vorm en net 12% van nasionale wetenskapakademies vroue is, wil ek vandag ’n lansie breek vir Suid-Afrika en sy ondersteuning van vroulike navorsers.
Ek moet net eers erken dat ek ʼn ekotoksikoloog is wat empiriese navorsing doen en dat ek my nou oor ʼn onderwerp uitlaat waaroor ek geen navorsing self gedoen het nie, behalwe wat ek gelees het en my eie en vrouekollegas se ervarings in die wetenskap. Ek is ook nie ʼn neurowetenskaplike sodat ek neurologiese uitsprake oor die kognitiewe vermoëns van verskillende geslagte kan evalueer nie.
My bydrae tot die viering van die vroue in die wetenskap berus op my eie ondervinding wat strek van die jong meisie wat in die laat 1980’s natuurwetenskappe gaan studeer het by ʼn Afrikaanse universiteit met die finansiële ondersteuning van die destydse Transvaalse Onderwysdepartement en die Stigting vir Navorsingsontwikkeling tot by die posisie wat ek tans beklee: ʼn volwaardige professor in Dierkunde aan dieselfde instansie (al het dit ʼn nuwe naam en het dit met ander instansies versmelt) met ʼn gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS). Suid-Afrika het oor hierdie tydperk baie verander: ons land is nou behoorlik gedemokratiseer en universiteite waar Afrikaans nog die enigste taal van onderrig is, bestaan nie meer nie.
Op voorgraadse vlak, toe ek Chemie, Dierkunde en Biochemie studeer het, was daar vroulike wetenskaplikes in onderskeidelik die destydse Chemie- en Dierkundedepartemente wat my laat sien het dat dit moontlik is om self daardie sport te bereik. Ja, hulle was verseker nie in die meerderheid nie, en na al die jare is dit steeds so. Die vroulike akademici in Dierkunde het darem geleidelik vermeerder en in 2018 is die eerste vrou ooit in Dierkunde by hierdie instansie tot vol professor bevorder. Dit het gebeur kort voordat Dierkunde sy honderdste bestaansjaar in 2020 gevier het. In 2021 het ek die tweede vroulike vol professor geword en die derde een is in 2023 bevorder.
Die aard van die navorsing in die onderskeie dissiplines kan help verduidelik waarom daar dikwels meer mans as vroue sukses behaal. Dierkundiges moet dikwels veldwerk doen om hulle materiaal te versamel en dis fisiek harde werk, maar as jy kans sien hiervoor is daar niks wat in jou pad kan staan nie, veral nie as jy goed beplan en in ʼn span werk nie.
En dis hier waar ek dink vroulike navorsers ʼn aanwins kan wees vir wetenskaplike navorsing. Vroue maak oor die algemeen goeie spanlede: hulle ondersteun mekaar op persoonlike en professionele vlak onder andere omdat hulle goeie kommunikeerders is. Ja, daar is altyd uitsonderings, maar uitsonderings is nie nou ter sake nie. Vroue moet twee-twee aan ʼn swaar emmer vol water en vis dra en moet gekoördineerd beweeg om nie die vrag te verloor nie. Vroue interpreteer liggaamstaal en gesiguitdrukkings vinniger en akkurater as hulle manlike eweknieë. Dis ook geen vreemde verskynsel nie om jong vroulike nagraadse studente saam-saam by hulle rekenaars of die laboratoriumbank te sien werk aan hulle onderskeie take en om navorsingsverwante vraagstukke ewe flink af te wissel met terugvoer oor die nuutste kleur naelverf. Volgens neurowetenskaplikes kan ons dit doen omdat die corpuscallosum tussen die twee breinhelftes by vroue dikker is as by mans en daarom kan ons vinniger verskeie onderwerpe hanteer.
En waar mans beter met ruimtelike oriëntering is en gemiddeld groter breine het, is vroue besonder goed met fyn motoriese take wat veral belangrik is vir laboratoriumwerk. Uit die aard van my soort navorsing, en waarskynlik vanweë die feit dat ek self ʼn vrou is, het ek al baie nagraadse meisiestudente opgelei. Nog net drie van die totale aantal nagraadse studente wat ek gelei het, is mans en net een van hulle moes in die weefselkultuurlaboratorium werk, wat my eerste liefde is, en waar fyn motoriese vaardigheid ʼn aanwins is.
Die wiel is stadig maar seker besig om te draai en meer en meer vroue kry aanstellings in navorsingsposisies in Suid Afrika. Natuurlik is daar die, wat ek noem ‘kunsmatige bevordering’ van vroue deur verskeie doelbewuste pogings van die regering se kant af, maar vir die regstelling van die meerderheid manlike wetenskaplikes van die verlede om enigsins volhoubaar te wees, moet die aanstellings op verdienste wees. Uiteindelik is dit die saak van die wetenskap wat gedien moet word, en nie sosiale en/of politieke oorwegings nie. Maar dis hier waar my idealisme met die werkliheid bots.
En ek dink ook nie mens moet absolute geslagsgelykheid in elke vakgroep en dissipline afdwing nie. Sommige dissiplines leen hom meer tot een of die ander geslag maar as die persoon die werk kan doen, moet die geleentheid gegun word sonder in agneming van geslag.
Ek het ondervinding van ʼn kortstondige periode (ongeveer 4 jaar) van vroulike leierskap in die stoel van die direkteur. En hier is die steekproef maar net n=1, maar haar regverdigheid en poging om almal gelyk te hanteer was wat my betref, een van die kenmerke in haar bestuurstyl wat prysenswaardig was. Sy was ewe toeganklik vir almal en het haar personeel se belange op die hart gedra, soms ten koste van haarself. En die eienskappe wat ek hier noem het haar laat uitstaan bo die manlike voorgangers. Ongelukkig is sy, soos soveel ander talentvolle Suid-Afrikaners, deur ʼn buitelandse instelling opgeraap.
Een saak wat waarskynlik nooit sal verander nie, is dat dit net vroue is wat kan swanger raak en vir daardie rede pleit ek dat instansies beter ondersteuning sal verleen aan jong wetenskaplike ma’s soos die inrig van bekostigbare kleutersorg op die terrein waar die ma werk en die skep van borsvoedingsruimtes. Die vernaamste versorger van die kleinding in die vroeë ontwikkelingsfase is noodwendig die ma. ʼn Briljante PhD-student van my, as voorbeeld, se eerste dogtertjie is gebore tydens haar PhD=studies en haar tweede dogtertjie tydens haar nadoktorale genootaanstelling (en die NNS het haar tegemoet gekom en ‘n verlenging van haar beurs toegestaan – hoera!). Navorserma’s wroeg weekliks met die balans tussen werk en gesin en is dikwels besig om vure op verskeie fronte gelyktydig dood te slaan. Maar hierdie situasie geld vir elke werkende ma in hierdie land en nie net vir die wetenskaplike nie.
Taal:
ʼn Tweede saak, wat onafhanklik van die geslag van die wetenskapbeoefenaar is, is die geleidelike agteruitgang van die gebruik van goeie Afrikaans in die algemeen, maar veral in wetenskapsbeoefening. Al het die samestelling van die tipe student op voorgraadse vlak wat in my klaskamer sit oor die jare verander, is daar die onderneming van die universiteit waarby ek aangestel is om Afrikaans in die klaskamer te onderrig op voorgraadse vlak met intydse tolkdienste na Engels toe. (Soms is dit andersom want die dosent kan nie Afrikaans praat nie). Daar sit dus nog oorwegend meer studente in my tweedejaar Dierkundegroep wat eerstetaal Afrikaanssprekend is, maar hulle kan hulleself nie behoorlik in hulle moedertaal uitdruk nie. Dit bevorder ook nie die saak van Afrikaans as wetenskaptaal wanneer studente aangemoedig word om so gou as moontlik vaardig in Engels te word nie, omdat dit die internasionale wetenskaptaal is. As wetenskaplike wat uitsluitlik in Engels publiseer, is ek self skuldig aan die verskraling van Afrikaanse wetenskaplike literatuur. Dit verg ʼn standvastige hart om ook in Afrikaans te publiseer as jy weet dat dit net ander Afrikaanssprekendes is wat die navorsing gaan lees. Dit keer egter nie die Duitser of die Fransman om in hulle moedertaal te publiseer nie en moet ek en Afrikaanssprekendes ons harte ondersoek oor hierdie houding om ook in Afrikaans te publiseer. Maar weer word ek gekonfronteer met die idealistiese beskouing van Afrikaans as wetenskaptaal en die pragmatiese benadering van internasionalisering van jou gekose wetenskaplike dissipline en het ek nie op hierdie stadium ʼn werkbare oplossing nie.