Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Vroue in leierskap in voedselwetenskap vir ʼn nuwe era van volhoubaarheid en voedselsekuriteit

11/2/24
Ontvanger van die Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie 2014, Raadslid van die SA Akademie en professor in Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch

Prof Marena Manley het in 1984 haar BSc in Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Na twee jaar by die Kleingraansentrum, Bethlehem, registreer sy vir haar honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria (UP) wat sy in 1987 verwerf. Sy sluit daarna by die Koringraad in Pretoria aan, waartydens sy haar meestersgraad, ook aan die UP, verwerf. In 1995 voltooi Marena haar PhD in naby-infrarooi (NIR) spektroskopie aan die Universiteit van Plymouth in die Verenigde Koninkryk (VK).

Na 18 maande by 'n NIR-spektroskopie-instrument vervaardigingsmaatskappy in York (VK), sluit sy in 1997 by die Universiteit Stellenbosch aan as dosent. Sy is in 1999 tot seniorlektor bevorder. Marena het in die laat 1990's NIR-spektroskopienavorsing, soos toegepas op voedsel- en landbouprodukte, aan die Universiteit geïnisieer en geïmplementeer. Dit is gevolg deur die bekendstelling van NIR-hiperspektralebeeldingnavorsing in die middel van die 2000’s. Haar navorsingsgroep was een van die eerstes wat sulke werk in Suid-Afrika en Afrika gedoen het, en om graan-NIR-hiperspektrale beeldingondersoeke internasionaal te publiseer. 

In 2010 word sy bevorder van senior lektor tot vol professor en sedert 2011 is sy 'n Nasionale Navorsing-stigting (NNS)-geëvalueerde navorser. Tot nou toe het Marena as studieleier opgetree vir meer as 70 nagraadse studente en het 120 eweknie-geëvalueerde artikels gepubliseer. Benewens NIR-spektroskopie en hiperspektrale beeldingnavorsing, ondersoek Marena en haar nagraadse studente ook X-straal-mikrorekenaartomografie en kernmagnetiese resonansie as ontledingstegnieke. In haar huidige navorsing word dié tegnieke onder meer gebruik om die kwaliteit van grane, gebakte- en ander voedselprodukte soos sjokolade te bestudeer en te karakteriseer.

Marena het die Graanwetenskap en-tegnologie Suider-Afrika-prys vir volgehoue uitnemendheid in Graanwetenskapnavorsing en -ontwikkeling in 2010 ontvang. In 2014 ontvang sy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Erepenning van die Fakulteit Natuurwetenskappe en Tegnologie. Tydens die Desember 2022 gradeplegtigheid is'n Kanselierstoekenning aan Marena toegeken as erkenning vir haar navorsingsuitnemendheid aan die Universiteit Stellenbosch.

Ontvanger van die Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie 2014, Raadslid van die SA Akademie en professor in Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch
Ontvanger van die Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie 2014, Raadslid van die SA Akademie en professor in Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch
Lees meer

Vandag vier ons Internasionale Dag van Vroue en Meisies in die Wetenskap – 'n dag wat die aandag vestig op die rol van vroue in die wetenskap, en meisies aanmoedig om 'n aktiewe rol te speel in die wetenskaplike gemeenskap. Dit is toepaslik om hierdie dag aan die begin van die nuwe akademiese jaar te vier, aangesien baie meisies gedurende hierdie tyd belangrike besluite maak oor hul toekomstige loopbane.  

Hoewel loopbane in die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en Wiskunde (STEM) algemeen beskou word as krities vir nasionale ekonomieë, het die meeste lande tot dusver, ongeag hulle vlak van ontwikkeling, nog nie geslagspariteit in STEM bereik nie. Dit is dus geen geheim nie dat vroue in die algemeen onderverteenwoordig is in STEM-loopbane. Die term ‘STEM’ in die wetenskappe verwys na twee van die drie primêre takke, naamlik die natuurwetenskappe (wat biologie, fisika, en chemie insluit) en die formele wetenskappe (byvoorbeeld wiskunde, tesame met logika en statistiek). Sosiale wetenskappe is die derde grootste wetenskap. 

Vir my, wat reeds dekades lank in voedselwetenskap betrokke is, beide in tersiêre opleiding en navorsing, is dit egter verblydend om te kan sê dat vroue, in teenstelling met suiwer STEM-velde, reeds 'n leidende rol speel in voedselwetenskap. Ook poog ons voortdurend om die vaktaal lewend te hou deur die module-inhoud so ver moontlik ook in Afrikaans aan te bied. Vroue dra wêreldwyd by tot volhoubaarheid en die versekering van voedselsekuriteit asook die verbetering van voedselstelsels in hulle huishoudings, gemeenskappe, streke en op die wêreldverhoog. Volhoubaarheid is 'n voorwaarde vir langtermyn voedselsekerheid in die sin dat volhoubare landboupraktyke, die bewaring van biodiversiteit, doeltreffende waterbestuur, en die beperking van negatiewe impakte op die omgewing alles deel van 'n volhoubare benadering tot voedselsekerheid vorm. Voedselsekerheid is egter meer as net bloot die beskikbaarheid van kos en dat daar genoeg middele is om dit aan te koop. Om die doel van voedselsekerheid te bereik, moet daar ook voortdurend toegang tot hoë kwaliteit en  voedsame kos wees.  

Vroue is verantwoordelik vir rofweg die helfte van die wêreld se voedselproduksie. In die meeste ontwikkelende lande produseer vroue tussen 60 en 80 persent van die beskikbare voedsel.  Vroue speel ’n kritieke rol in die verhoging van die voedingswaarde van voedsel. Dit verseker dat hulle gemeenskappe die voordele geniet van kos met verbeterde voedingswaarde (ook danksy biofortifisering). Hulle speel dus 'n belangrike rol in die opneem en die verspreiding van sulke kundigheid. Hierdie inisiatiewe verbeter nie net die voedingswelstand van huishoudings nie, maar laat hulle ook deurslaggewend bydra tot die verbetering van plaaslike voedselstelsels. Vroue in ontwikkelende lande dra dus betekenisvol by tot die bevordering van gesonder diëte vir hulle gemeenskappe en gesinne. ‘n Voorbeeld hiervan is die volgende: Vitamien A-tekort is die hoofoorsaak van voorkombare blindheid by kinders regoor die wêreld,veral in ontwikkelende lande.  Vroue het kundigheid bekom oor gewasse wat ryk is aan vitamien A, en het doelbewus begin om dit te verbou. Hulle voorsien dan hulle gemeenskappe daarvan, om sodoende hierdie gesondheidsrisiko aan te spreek.

LEES VERDER

Bronne