Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Wêreldomgewingsdag - 5 Junie 2023

5/6/23
deur Prof Hannes Rautenbach

Akademieraadslid en redakteur van die SA Akademie se Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT)

Nadat professor Hannes Rautenbach in 1987 ʼn BSc-graad in Weerkunde behaal, sluit hy die volgende jaar by die Suid-Afrikaanse Weerburo as ʼn weerkundige, en later in 1991 as ʼn senior weerkundige, aan. In 1991 word hy ook tydelik aangestel as navorsingsassistent by die nuutgestigte CORDATA Leerstoel in Weerkunde by die Departement Siviele Ingenieurswese van die Universiteit van Pretoria (UP). Hy word in 1995 voltyds as lektor aangestel, en word in 2000 bevorder tot senior lektor. In 2006 word hy medeprofessor. Gedurende hierdie periode dien hy ook as koördineerder van die Weerkunde Eenheid by UP – die enigste eenheid in die suidelike Afrika wat voorgraadse en nagraadse kwalifikasies in weerkunde aanbied. In 1999 ontvang hy ʼn doktorsgraad in Weerkunde vanaf dieselfde universiteit. In 2006 word hy as hoof van die Departement Geografie, Geoïnformatika en Meteorologie aangestel, ʼn posisie wat hy vir agt jaar beklee. Tussen 2010 en 2014 dien hy ook as direkteur van die UP Waterinstituut. Prof. Rautenbach het op verskeie rade wat navorsing evalueer gedien, en was ook leier van etlike navorsingsprojekte vir onder meer die Waternavorsingskommissie en die Nasionale Navorsingstigting. Hy het reeds meer as 50 artikels in vaktydskrifte gepubliseer, en oor die 100 referate by nasionale en internasionale konferensies aangebied. In 2017 word hy aangestel as buitengewone professor in die Skool vir Gesondheidstelsels en Publieke Gesondheid van die UP.

deur Prof Hannes Rautenbach
deur Prof Hannes Rautenbach

Akademieraadslid en redakteur van die SA Akademie se Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT)

Lees meer

Ons stryd teen plastiekbesoedeling en ons toegewydheid aan omgewingsrentmeesterskap

Op 5 Junie 2023 is dit weer eens Wêreldomgewingsdag. In die normale sin van die woord word ʼn wêrelddag herdenk of gevier, maar ek wil laasgenoemde twee begrippe doelbewus ontwyk omdat daar op hierdie stadium weinig is om te herdenk of te vier. Die dag dien inderwaarheid eerder as ʼn bewuswordingsdag en ʼn oproep tot gekoördineerde ingryping en transformasie.

In vanjaar se Wêreldomgewingsdag word daar klem gelê op ‘oplossings vir plastiekbesoedeling’.  Meer as 400 miljoen ton plastiekprodukte word jaarliks oor die aarde geproduseer, waarvan die helfte na raming slegs een keer gebruik word. Van hierdie helfte word slegs 10% herwin. Daar beland jaarliks ongeveer 21 miljoen ton plastiek in ons damme, mere, riviere en oseane. Mikro-plastiese deeltjies (deeltjies wat kleiner as 5mm in deursnee is) word dan ook in ons voedsel- en watersisteme opgeneem, wat impliseer dat elke mens op aarde jaarliks sowat 50 000 plastiekdeeltjies inneem. Daar is vandag konsensus dat plastiekbesoedeling nadelig is vir beide menslike gesondheid en biodiversiteit, en dat hierdie besoedeling feitlik alle ekosisteme beïnvloed; vanaf die hoogste bergtop tot die diepste oseaanbodem.

Die bewuswording van die invloed van plastiekbesoedeling op ons natuurlike omgewing het in 2015 begin toe die marienebioloog, Christine Figgener, tydens haar doktorale navorsing naby Costa Rica ʼn plastiekstrooitjie in ʼn seeskilpad se neus opgemerk het. Die hele proses waartydens die strooitjie, natuurlik met groot ongemak en pyn, uit die skilpad se neus uitgetrek is, is op videofilm vasgelê. Twee dae nadat die video op sosiale media gelaai is, was dit reeds deur miljoene mense besigtig, en in 2020 is die video al reeds ses miljoen keer gekyk. Na hierdie video het die debat rondom plastiekbesoedeling soos ʼn veldbrand oor die hele aarde versprei.

Dit is tog ironies dat dit juis die ontwikkeling van plastiek was wat die seeskilpad in die verlede van uitwissing gered het. Vir duisende jare het mense van regoor die wêreld voortreflike juweliersware en ander luukse items uit seeskilpaddoppe vervaardig. Wetenskaplikes beraam dat daar sedert 1844 ongeveer 60 miljoen seeskilpaaie per jaar vir hierdie doel doodgemaak is.

Dit was die elastiese plastiekeienskappe van die seeskilpaddop wat dit so bruikbaar gemaak het. Daarbenewens is ivoor uit olifanttande ook al van die vroegste tye af gebruik om, onder meer, beelde, klavierklawers en biljartballe te vervaardig. Kort na die einde van die Amerikaanse Burgeroorlog in 1870 is beraam dat daar nagenoeg 22 000 olifante per jaar vir hulle tande doodgemaak is, en dat daar groot kommer in die New York Times uitgespreek is oor die kwynende beskikbaarheid van ivoor. Daarbenewens is beraam dat die Britse invoer van ivoor aanleiding gegee het tot die uitwissing van 80 000 olifante per jaar. Daar is selfs gevrees dat ivoorbronne uitgeput mag raak.

ʼn Belgiese chemikus, Leo Baekeland, het gedurende 1907 die eerste volledige vorm van sintetiese plastiek vervaardig. Plastiekprodukte het daarna tot so ʼn mate verbeter dat die mark vir seeskilpaddoppe en ivoor gekrimp het, en dat die bevolkingsgetalle van seeskilpaaie en olifante gestabiliseer het. Plastiek kan daarom nie net as nadelig en skadelik beskou word nie.  

Dit is belangrik dat ons uit bogenoemde moet besef dat daar met beide die voordelige/nadelige aanwending van menslike hulpbronne en die voordelige/nadelige invloed wat dit op ekosisteme en biodiversiteit mag hê, omsigtig te werk gegaan moet word. Dit is juis op hierdie terrein waar die wetenskap en volgehoue navorsing ʼn beduidende rol kan speel.

Die tema van Wêreldomgewingsdag sluit vanjaar mooi aan by die tema van die SA Akademie se jaarlike simposium, naamlik ‘Volhoubare menslike welstand in Suid-Afrika’. Net soos wat ons omgang met plastiek die welstand van ons lewensomgewing nadelig mag beïnvloed, hou die druk van ʼn groeiende bevolking en die gepaardgaande aanvraag na lewensprodukte en lewensmiddele ook bepaalde welstandsrisiko’s in. Dit het noodsaaklik geword dat ons hierdie risiko’s vroegtydig moet identifiseer sodat daar vanuit ʼn wetenskapplike uitgangspunt met oplossings vorendag gekom kan word.  

LEES VERDER

Bronne