Internasionale Gewonetaaldag: Onderhoud met prof Eleanor Cornelius op 17 Oktober

Internasionale Gewonetaaldag word jaarliks op 13 Oktober gevier om die belangrikheid van toeganklike taal vir eindverbruikers in die kollig te stel.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Werkgemeenskap Pretoria bied aan:

'n Onderhoud met prof Eleanor Cornelius,wenner van die CL Engelbrechtprys vir Taalkunde vir 2024 oor die tema Demokratisering van taal: Wensdenkery of 'n praktiese werklikheid?

Mnr George de Bruin gaan hierdie onderhoud met prof Cornelius voer. Hy is tans ’n doktorale kandidaat en prof Cornelius is een van sy studieleiers.

Kom woon dit gerus by en neem deel aan die gesprek oor hierdie interessante onderwerp.

Datum: Donderdag 17 Oktober om 18:30 -20:00 
Plek:
Kunslokaal by die Akademiekantoor 
Adres:
Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria
Aanlyn:
U kan die geleentheid ook virtueel bywoon. Dui dit asseblief net so aan op u RSVP 
Koste:
Gratis (Verversings sal bedien word.)

Stuur asseblief u RSVP per e-pos aan Sanita Meyer by akademie@akademie.co.za teen Dinsdag 15 Oktober 2024. 

Agtergrond oor prof Eleanor Cornelius en mnr George de Bruin:

Prof Eleanor Cornelius

Die CL Engelbrechtprys vir Taalkunde is hierdie jaar aan prof Eleanor Cornelius toegeken. Die prys word om die beurt vir letterkunde en vir taalkunder toegeken. Elke afdeling kom elke vyfde jaar aan die beurt. Die prys word toegeken aan prof Eleanor Cornelius vir Gewone taal: ’n Oorsig.

Gewone taal: ’n Oorsig kan as pionierswerk beskou word en bevorder dus nie net die veld van gewonetaalstudies nie, maar verteenwoordig ook ʼn belangrike mylpaal in die ontwikkeling en verryking van die Afrikaanse taallandskap. Nie net is hierdie boek van onskatbare waarde vir die Afrikaanse taalkunde landskap nie, die relevansie daarvan is ook onmiskenbaar in die internasionale veld van gewone taal.  

Eleanor Cornelius het in 2012 die kwalifikasie DLitt et Phil in toegepaste linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Sy doseer modules in teksredigering en psigolinguistiek op voorgraadse en honneursvlak. Daarbenewens begelei sy meesters- en doktorale studente. Prof Cornelius het ondervinding opgedoen in beide akademiese en professionele kontekste. Sy is ʼn ten volle geakkrediteerde tolk (Engels-Afrikaans; Afrikaans-Engels).

Prof Cornelius het haar loopbaan as taalpraktisyn by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op Stellenbosch begin, waarna sy by die Departement Afrikaans aan die Port Elizabeth-kampus van Vista Universiteit, en daarna die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare, aangesluit het. Prof Cornelius is in 1998 aangestel as hooftaalpraktisyn in die Staatstaaldienste van die Departement van Kuns en Kultuur, waar sy as vertalervan regeringsdokumente soos wetgewing, beleidsdokumente, toesprake ens. gewerk het. Die grootste uitdaging van prof Cornelius se loopbaan het aangebreek toe sy die pos as adjunkdirekteur van taalbeplanning by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSALB) aanvaar het. Sy het die taak gehad om woordeboekeenhede vir elk van die elf amptelike tale op te rig. Teen die tyd dat sy PANSALB verlaat het om in 2002 by die Randse Afrikaanse Universiteit aan te sluit, was al elf eenhede gevestig en ten volle funksioneel. Aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit was prof Cornelius verantwoordelik vir die vestiging en bestuur van ʼn grondslagprogram, en later verlengde graadprogramme vir studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe. Aan die begin van 2008 sluit prof Cornelius by die Departement linguistiek en literêre teorie aan.

Sy het al referate gelewer by ʼn aantal plaaslike en internasionale taal- en akademiese ontwikkelingskonferensies. Prof Cornelius bied ook gereeld werkswinkels aan oor die onderwerp "gewone taal". Sy het ook seminare aangebied oor die onderwerp van haar doktorale navorsing 'n Linguistiese ondersoek na die verstaanbaarheid van verbruikersdokumente vir die algemene Afrikaanssprekende publiek. Sy word gereeld versoek om referate vir publikasie in vaktydskrifte te hersien en sy tree op as eksterne eksaminator virverskeie universiteite.

Prof Cornelius dien op die raad van die Fédération Internationale des Traducteurs en sy is die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SATI). Sy is ook ʼn lid van die akkreditasiekomitee van SATI, ʼn lid van die Linguistiese Vereniging van Suid-Afrika (LSSA) en ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Toegepaste Linguistiese Vereniging (SAALA).

Mnr George de Bruin

George de Bruin het in 2018 ’n meestersgraad (cum laude) aan dieUniversiteit van Johannesburg behaal. Sy verhandeling is deur dieSuid-Afrikaanse Vertalersinstituut as beste meestersgraadverhandeling bekroon.Hy is tans ’n doktorale kandidaat, en prof. Cornelius is een van systudieleiers. Sy tesis handel oor die verbruikersgerigtheid van medisynebrosjures en hoe gewonetaalbeginsels aangewend kan word om meer toeganklik vir lesers te maak.

lees meer nuus