Oproep om Referaatvoorstelle

JAARLIKSE ALGEMENE SIMPOSIUM

19 en 20 September 2024

Aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Die SA Akademie se jaarlikse simposium vind op Donderdag 19 en Vrydag 20 September 2024 by die Akademiegebou, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria plaas. Dit sal in ’n hibriede formaat aangebied word. U word vriendelik uitgenooi om ’n referaatvoorstel in te dien wat fokus op die breë simposiumtema.

U is welkom om die uitnodiging ook aan belangstellende kollegas te stuur.

TEMA:

Van isolasie na internasionalisering: Tendense in Suid-Afrikaanse navorsing die afgelope 30 jaar

In 2024 is dit 30 jaar sedert die 1994-verkiesing. Dit het in vele opsigte ’n einde aan akademiese isolasie gebring, wat die internasionalisering van Suid-Afrikaanse akademici aangehelp het.

Suid-Afrika se internasionalisering – en daarmee saam ook die internasionalisering van Suid Afrikaanse navorsing – het saamgeval met belangrike geo-politiese verskuiwings in ’n post Koue Oorlog-orde. Die wêreld van vandag lyk in vele opsigte anders as 30 jaar gelede. Daar word wêreldwyd geworstel met uitdagings rondom klimaatsverandering, volhoubaarheid en sosio-ekonomiese ongelykheid. In 2024 word die burgers van + 64 lande – 49% van die wêreld se bevolking – tot die stembus opgeroep. Dit maak dit die grootste verkiesingsjaar tot op hede, wat vraagstukke rondom demokrasie en die uitdagings wat demokrasieë in die gesig staar, weer bo aan die agenda plaas. Daar word vrae gestel oor Kunsmatige Intelligensie, die media en die integriteit van navorsing.

Navorsers kry die geleentheid om “die voorpunt van navorsing” in hul onderskeie vakgebiede te demonstreer. Daardeur kan hulle verskuiwings en nuwe navorsingstendense van die afgelope 30 jaar aandui, en in gesprek tree met die hedendaagse vraagstukke wat deur hul navorsing na vore kom.

Moontlike subtemas:

  • Geopolitieke veranderinge en die uitwerking daarvan op die huidige regeringspolitiek.
  • Die wyse waarop dergelike (inter)nasionale verskuiwings alle inwoners in die land se leefwyse mag/kan/sal beïnvloed.
  • Navorsing wat toepaslik sal bydra tot ʼn volhoubare lewensverrykende omgewing, en wat beide die mens en ons natuurlike ekosisteme sal bevoordeel en bevorder.
  • NSFAS bly ook ’n aktuele onderwerp by instellings.
  • Die simposium gaan ná die verkiesing wees en kan ’n sterk onderwerp wees vir ’n paneelbespreking
  • Na aanleiding van die 2024-verkiesing in Mei vanjaar kan ook gekyk word na die volgende temas:
    - Suid-Afrika na 30 jaar van demokrasie.
    - ’n Veranderende politieke omgewing (nasionaal/internasionaal).
    - Die 2024-verkiesing.

Belangstellendes wat ’n referaat (maksimaal 20 minute) wil lewer, word hartlik uitgenooi om ’n voorlegging in te stuur wat aansluit by die oorkoepelende tema en verwante terreine. Die voorlegging moet aan die volgende vereistes voldoen:
➢ ’n Opsomming van ongeveer 400 woorde.
➢ Volle name en van, titel, werk- en e-posadres en selfoonnommer.
➢ ’n Bondige CV (maksimum 200 woorde in prosastyl).
➢ ’n Hoë resolusiefoto van uself.

Referaatvoorstelle moet voor 30 Junie 2024 aan dr. Linda Brink gestuur word by linda@akademie.co.za.
’n Keurkomitee sal finaal oor elke voorlegging besluit. Terugvoer van die komitee oor of u referaat aanvaar is: 15 Julie 2024.


Vriendelike groete

Dr. Linda Brink
Koördineerder: Projekte

lees meer nuus