Verklaring oor die Afrikaner Verklaring

Verklaring oor die Afrikaner Verklaring


Op Sondag 21 April 2024 is daar in die media verslag gedoen oor die sogenaamde Afrikaner Verklaring, wat die volgende dag, 22 April, by die Voortrekkermonument onderteken sou word. Volgens die aanvanklike media-verslae was die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns een van die voorgenome ondertekenaars.


Die inisiatief en verklaring het nooit voor die Akademieraad gedien nie en daar was geen mandaat om dit namens die Akademie te onderteken nie.


Die Voorsitter het hierop die organiseerders van die verklaring, asook die betrokke media-organisasies genader om die saak reg te stel. Volgens die organiseerders was die verwysing na die Akademie ’n fout aan hulle kant. Hulle het ook onderneem om enige sulke verwysings na die Akademie van hulle platforms en dokumente te verwyder. Die betrokke media-organisasies het ’n soortgelyke onderneming gemaak en dit na ons wete ook deurgevoer. In die digitale era is dit egter moeilik om die elektroniese voetspoor uit te wis, en ons is bewus daarvan dat enkele verwysings na die Akademie steeds in die kuberruim voortleef.


Die kwessie is tydens die Raadsvergadering van 7 Mei bespreek. Die Akademieraad bevestig hiermee dat hy die belange van die Afrikaanse gemeenskap in die wydste en mees inklusiewe sin van die woord dien. Om dié rede val dit dan ook buite die Akademie se mandaat om die verklaring te onderteken. Die Akademie sal voortgaan om ’n positiewe bydrae te lewer wat tot voordeel van die ganse Afrikaanse gemeenskap en die land in sy geheel strek.

lees meer nuus