’n Versameling afgediende muses het op 6 November by die SA Akademie geopen. Dit bestaan uit kunswerke van Ruhan Janse van Vuuren en Bastiaan van Stenis wat hulle saam geskep het oor ’n aantal jare. Die uitstalling is saamgestel deur dr Jan van der Merwe, lid van die SA Akademie se Kommissie vir Visuele Kunste.
Jan van der Merwe gaan op 2 Desember ’n rondleiding van die kunsuitstalling aanbied. Die publiek is welkom om dit by te woon.
Datum en tyd: Maandag, 2 Desember om 11:00 – 12:00 (Amptelike Opening)
Plek: Kunslokaal. SA Akademiegebou, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria.
Tema: ’n Versameling afgediende muses/ ’n Collection of retired muses
RSVP: Stuur ‘n e-pos aan Sanita Meyer by akademie@akademie.co.za teen Vrydag, 30 Desember.
Koste: Gratis
DATUMS VAN DIE UISTALLING:
2 November - 14 Desember 2024
6 Januarie - 18 Januarie 2025
Uitstalling oop vir die publiek.
Ure:
Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydae vanaf 09:00 - 17:00
Woensdae vanaf 09:00 tot 19:00 (met ’n glasie sjerrie)
Saterdae 09:00 - 14:00
Sondae gesluit
Navrae: akademie@akademie.co.za
Besieling put uit die onpeilbare toestand van bestaan wat met die wispelturige werklikheid van herinneringe versmelt is. Dit is die teenswoordige wat deur die krake van ons verlede sypel, en ’n warboel verwagtinge van ’n moontlike toekoms. Dit is die lied, dans, woorde en teksture van die bestaan; die weerlig wat deur die bewussyn sny, die herinneringe wat deur die teenswoordige donder.
Hierdie oeuvre is ’n versameling wat in Buitestanderkuns (Art Brut) gegrond is. Dit is ’n rou, onverfynde kuns wat wegbeweeg van die tradisionele beperkings wat op definisies van hoë kuns geplaas word. Die kunstenaars beweeg weg van die tradisionele wyse waarop gietvorms gemaak en kunswerke gegiet word. Hulle omhels ’n eksperimentele proses waarvolgens die materiale definieer sowel as tot iets nuuts verfyn word. Dié proses boots op obskure wyse die idee van Hesiodos (naas Homerus die oudste bekende Griekse digter en wat geleef het in die middel van die 8ste eeu v.C) dat die muses mense in ’n toestand plaas waarin hulle vergeet van pyn, verpligtinge en die alledaagsheid van verwagtinge.
Die materiale is hoegenaamd nie tradisioneel nie. Dit word tot die uiterste gedryf en op kontrasterende wyse georden. Dié effek skep die illusie dat hulle met mekaar worstel en veg om hulself te bly, hoewel hulle onvermydelik saam méér word as wat hulle op hul eie sou kon wees. Die hardheid weerspieël die sagtheid; die chaos weerspieël die roerloosheid; die herinnering weerspieël die moontlikheid.
Hierin fluister die kalmte midde-in die warboel van lawaai. Dit is maklik om hierdie werke as dolle chaos te beskou; as te besig, ’n verwarrende opskudding van pandemonium. Oppervlakkig gesproke is dit waar. Maar met tyd en geduld omskep die detail wat binne-in die kunswerke genestel is die helderheid in die delikate. Oomblikke van insig. Fragmente van verstandigheid. Op dié wyse weerspieël hulle alle reise: die bymekaarmaak van alles, die versameling van sommige dinge, die uitgooi van die meeste goed en die getalm van verbygaande dinge. Die produk, in hierdie geval, is die proses self. Nie net in die skep daarvan nie, maar ook in die besigtiging. Dit is onmoontlik om dieselfde ding twee keer te aanskou. Tyd sal dit nie toelaat nie. Ervaring sal dit vorm gee. Herinneringe sal dit rig. En die lig teen die oorgeblaasde vorms sal dit giet.
Dié versameling is ’n gekopieer-en-geplak wat tegnologie trotseer, maar terselfdertyd omhels. Dit is waar die natuur (in sowel die letterlike as menslike betekenis) vasgevang en gegiet word, terwyl alle versigtigheid oorboord gegooi word. Dit is ’n versameling wat in ’n staat van mededeelsaamheid gevorm word – die aangee van een tasbare voorwerp aan ’n ander persoon. En binne-in dié ruimte van individuele redenasie en inspirasie word daarop gebou en dit opnuut definieer, herontwerp en herverbeel. Die kunstenaars het apart saamgewerk. En die werke, hoewel gegiet en skynbaar voltooi, is nie volledig nie. Die toeskouer is die laaste medewerker van hierdie kunswerk, want hul ervaring daarvan is die laaste stuk van die komposisie.
Hierdie is bloot ’n versameling van oomblikke wat as herinneringe gestoor is. Om vergeet te word. Om opnuut in ’n nuwe oomblik gesmee te word.
’n Tragedie van tyd. ’n Viering van humor. ’n Dans van poësie. ’n Spottery met die geskiedenis. ’n Besieling vir ’n goddelike toekoms.
Bastiaan van Stenis is in 1981 in Suid-Afrika gebore.
Hy is hoofsaaklik ’n selfonderrigte kunstenaar.
In sy eie woorde: “Wat my aandryf, is die proses; die skepsel is net nog ’n halte op die pad.” Van Stenis het sy professionele kunstenaarsloopbaan in die vroeë 2000’s begin. Sedertdien het hy verskeie kere in sowel Suid-Afrika as oorsee uitgestal.
Omdat hy ’n aantal jare in Europa gewoon en gewerk het, het sy ervaringe daar ’n onpeilbare invloed op sy artistiese uitdrukking gehad.
Sy keuse van onderwerpe en media is uiteenlopend. Hy gebruik verskeie verwe, gomme, papier en was, en inkorporeer voorwerpe wat hy vind, tesame met taksidermie. Die spesimens vir sy taksiedermieprojekte is doodgeryde diere, of wat hy vind deur kontak met veeartsenyklinieke en boere van naburige plase wat jongvee aan natuurlike oorsake verloor het.
Van Stenis is toegewyd aan sy kuns, voortdurend besig om nuwe materiale en tegnieke te ontdek. Sy motivering is om kuns te skep wat nie net visueel treffend is nie, maar wat ook emosioneel met hom resoneer, terwyl hy poog om ’n diepe konneksie met sy gehoor te vestig.
Sy werk dien as persoonlike narratief wat die uitdagings van die grootwordproses uitbeeld, asook die navigasie van die kompleksiteite van sosiale norme, verwagtinge en die definisie van die self. Van Stenis konfronteer hierdie idees wanneer hy skynbaar gewone oomblikke uitbeeld met ’n gewaarwording van gelyktydige inploffing en ontploffing – ons word wat ons opgaar en ervaar.
Herinneringe ets hulself op ons soos definiërende merke. Emosie word opgegaar en fatsoeneer ons vorm. Ons blywende essensie lê in die vlekke wat ons gekose identiteite dra. In hierdie styl, wat definisie transendeer, omhels ons die klassisisme van kunstenaarskap, die moderniteit van tekstuur, die verset van die neo-ekspressionisme en die potensiaal vir méér.
Van Stenis werk en woon in die Overberg-omgewing naby Kaapstad, Suid-Afrika.
Besoek die kunstenaar se webstuiste
Ruhan Janse van Vuuren is in 1981 in Amersfoort, Suid-Afrika gebore.
Janse van Vuuren se werk is visueel boeiend en dit laat die kyker daarvan met ’n emotiewe respons wat hulle deurspoel. Sy tegnies gepaste figure word die doek waarop hy speel – hy voeg alledaagse voorwerpe en merke by, hy neem elemente weg. Dit kulmineer in werke wat met genuanseerde simboliek en betekenis vervul is.
Hy voeg vlakke van betekenis by en die figure word daarin versluier. Dié elemente, wat wissel tussen die alledaagse en die meer beduidende, word dus vervleg in die figuur se sin en interpretasie. Daar is ’n element van eksperimentering wat die werke verhef, en Janse van Vuuren dryf sy kuns verby die verwagte om die onverwagte te skep. Van die warboel van die basisse wat die werke begrond tot die voorwerpe wat dit dra en hul glorieryke laste word, word die idee van aanvaarding deur die kunstenaar gedemonstreer. Die idee is dat die self slegs waarlik gedefinieer kan word wanneer elke deel aanvaar word wat ons wording vorm.
Die werke weerklink met ’n tong-in-die-kies speelsheid wat geskik is vir galgehumor. Die figure word in wese speelgoed wat saam met die sosiale scenario’s en emotiewe landskappe beweeg waarin die figure bestaan. Hy eksperimenteer deurgaans en verken gevolglik alternatiewe maniere om te wees en te word.
Dié speelse benadering tot die ernstiger idees wat hy verken (die enkeling in die samelewing, die impak van die verlede en die hede op die wese, en die verstrooide oomblikke wat ons begrond en ons laste word), word deur sy kinders geïnspireer. Hy word geboei deur hul filterlose eerlikheid, en die stemme wat gevolglik in hul stories en kuns gesien word. Dié eerlikheid kan vertolk word as die naaste wat ons aan die waarheid kan kom.
Janse van Vuuren werk en woon tans in Pretoria, Suid-Afrika.