Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika: ’n Besinning oor die uitdagings en geleenthede van ’n komplekse situasie.

27/10/22
deur dr Van Zyl de Villiers
Ph.D. in Chemie
deur dr Van Zyl de Villiers
deur dr Van Zyl de Villiers
Ph.D. in Chemie
Van Zyl de Villiers het aan die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Suid-Afrika en die destydse Randse Afrikaanse Universiteit studeer, met ’n Ph.D. in Chemie van laasgenoemde. Van 1979 tot 2013 was hy in diens van die Raad op Atoomkrag, later die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa).
Lees meer
deur prof Frik van Niekerk
D.Sc. in Kernreaktorwetenskap
Frik van Niekerk is professor in Energie in die Eenheid vir Energie- en Tegnologiestelsels, Navorsingsgroep: Kerningenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese, Noordwes-Universiteit (NWU) en direkteur van Viridis Ipsum Groen-Energie-Oplossings. Hy het Fisika, Wiskunde en Toegepaste Wiskunde studeer en ’n D.Sc. in Kernreaktorwetenskap verwerf. 
Lees meer

Dit word wyd erken dat Suid-Afrika ’n krisis beleef wat die betroubare opwekking van ’n voldoende hoeveelheid elektrisiteit betref, dat dit ’n uiters komplekse situasie is, en dat daar geen kitsoplossing bestaan nie. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns deel die geregverdigde en wydverspreide kommer oor die huidige situasie en die negatiewe impak daarvan op die Suid-Afrikaanse ekonomie, die bevolking, politieke stabiliteit asook ons land se beeld na buite.

Die dilemma

Die huidige situasie waarin Eskom homself bevind as die verskaffer van byna alle elektrisiteit in Suid-Afrika, en wat die land se ekonomie en hele bevolking direk raak, is deur ’n komplekse kombinasie van faktore veroorsaak. Dit sluit in die feit dat ’n groot deel van Eskom se opwekkingsvloot in ’n gevorderde stadium van hul ontwerpsleeftyd is, dat onvoldoende instandhouding van sodanige infrastruktuur oor ’n lang tyd uitgevoer is, en dat noodsaaklike tegniese en bestuurskundigheid asook institusionele geheue verlore geraak het. Sake is vererger deur ’n kombinasie van korrupsie (bv. die sluit van kontrakte met twyfelagtige diensverskaffers), diefstal van voorraad en aanlegkomponente asook ander vorms van misdaad (bv. opsetlike skade aan opwekkingseenhede) wat ’n direkte negatiewe impak gehad het en steeds het. Boonop het Eskom se finansiële probleme verdiep deur ’n klimaat van niebetaling deur gebruikers asook wanbestuur deur en soms korrupsie by plaaslike owerhede. 

Aan regeringskant was daar sedert die laat negentigerjare ’n tekort aan strategiese denke oor die rol van energieverskaffing in die ekonomie, met stadige of huiwerige besluite oor die uitbreiding van opwekkingskapasiteit, ondanks duidelike aanduidings (insluitend advies van kundiges) van ’n aankomende krisis. Konstruksie van die Medupi- en Kusile-steenkoolkragstasies het weliswaar in 2007 begin, maar is erg vertraag en het goedgekeurde begrotings ver oorskry weens ’n kombinasie van swak projekbestuur, korrupsie en tegniese probleme. Die verkrygingsprogram vir die verskaffing van hernubare energie deur onafhanklike produsente (die Renewable Energy Independent Power Producer Procurement Programme, REIPPPP) het met rukke en stote gevorder, en verskeie sperdatums is nie gehaal nie.  

Regeringsministers en -departemente het by verskeie geleenthede ‘n gebrek aan belyning en koördinasie oor energie-aangeleenthede geopenbaar. Dit was onder andere sigbaar tydens die sogenaamde Risk Mitigation Independent Power Producer Procurement Programme wat moes help om die krisis op die kort termyn te verlig. Daarbenewens is belangrike beleidsdokumente (spesifiek die Geïntegreerde Hulpbronplan, IRP) ongereeld bygewerk en dan ook duidelik deur nietegniese kwessies beïnvloed.

Wat kernenergie betref, is die korrelbedreaktorprogram in 2010 op omstrede wyse gestaak te midde van internasionale erkenning vir die projek, en die verkrygingsproses vir nuwe kernreaktore is deur die konstitusionele hof tersyde gestel weens nievoldoening aan wetlike vereistes en politieke inmenging.

Wat is daaraan gedoen? 

Sedert 2010 was daar verskeie groot aankondigings van beplande (regerings) ingrypings by Eskom en elders in die elektrisiteitsbedryf, maar dit het selde die beloofde oplossings gelewer. Intussen het Eskom steeds gebuk gegaan onder ’n kombinasie van operasionele, finansiële en bestuursuitdagings, wat deur politieke kwessies asook korrupsie en ander vorms van misdadigheid vererger is. Sedert die begin van 2020 was daar ‘n groter mate van stabiliteit op uitvoerende bestuursvlak, maar die direksie het nie op volle sterkte gefunksioneer tot die aankondiging van ’n nuwe direksie deur minister Gordhan op 30 September 2022 nie. Eskom se bestuur moes veral oor die afgelope jaar worstel met dikwels opponerende behoeftes, byvoorbeeld om nodige (voorkomende) instandhouding aan kragstasies te doen terwyl alle beskikbare kapasiteit verkieslik in volle bedryf moes bly – geen maklike taak nie.

Die langverwagte ontbondeling van Eskom in aparte entiteite vir opwekking, transmissie en verspreiding vorder wel, maar stadiger as wat beplan is. Die nodige aankoopooreenkomste tussen Eskom en privaatsektorprodusente van veral son- en windkrag (as deel van die REIPPPP) is ook baie stadig gesluit.

Suid-Afrika se vorige werk aan die ontwikkeling van nuwegenerasie-kernreaktore word met groot sukses in die buiteland verder gevoer, waar Suid-Afrikaners saamwerk aan die ontwikkeling van nuwe ultraveilige reaktore met goeie kommersialiseringspotensiaal. Kernenergie in Suid Afrika word vaagweg in die IRP 2019 genoem as ʼn “no-regret”-opsie sonder om enige duidelikheid oor uitkomste en tydskale te verskaf.

Sedert die begin van 2022 was daar meer erkenning deur die regering dat die probleme met die opwekking en verskaffing van elektrisiteit inderdaad ’n nasionale krisis is, hoewel alle ministers en ander besluitnemers nie noodwendig eendragtig saamgetrek het nie. Dit het wel uitgeloop op president Ramaphosa se erkenning op 25 Julie 2022 van die omvang van die krisis en sy aankondiging van ’n aksieplan om die situasie te takel. (Die meeste van die betrokke aksies is in die aanloop tot die aankondiging deur verskeie kundiges en belangegroepe voorgestel.) Vier breëgroepe aksies sal onderneem word, naamlik die verbetering van die prestasie van Eskom se bestaande opwekkingsvermoë, die versnelling van die vestiging van nuwe opwekkingskapasiteit, bevordering van privaat beleggings in opwekkingskapasiteit, en aansporings aan besighede en huishoudings om in eie opwekking te belê. Daarmee saam het die president aangedui dat die elektrisiteitsektor fundamenteel omvorm sal word in die belang van toekomstige volhoubaarheid.

Belangrike aspekte van die genoemde aksies van direkte belang vir Eskom is die verslapping van verkrygingsvereistes vir instandhouding en opgradering van kragstasies, die inbring van bykomende kundigheid (’n aspek wat ongelukkig steeds deur politieke en ideologiese sienings gekniehalter word) en die aankoop van elektrisiteit vanaf bestaande onafhanklike produsente. Die president het ook die versnelde verwerking van aanbiedings en die verhoogde kapasiteit van verdere REIPPPP-‘vensters’ asook ’n versoek vir voorstelle m.b.t. die vestiging van energiebergingskapasiteit (bv. batterye) aangekondig. Die registrasiedrumpel vir privaatelektrisiteitsopwekkingsprojekte (100 MW sedert Junie 2021) sal verwyder word en bepaalde regs- en regulatoriese hindernisse sal verwyder word.

Hoe lyk die pad vorentoe?

LEES VERDER

Bronne

Department of Minerals and Energy, White Paper on the Energy Policy of the Republic of South Africa, 1998

Department of Energy, Integrated Energy Plan, 2016

Department of Energy, Integrated Resource Plan (IRP2019), 2019